Die Fortuin-gesin van Roodewal het die afgelope naweek hul merk gemaak toe al drie hul kinders as kampioene by die Worcester- hoër- en laerskole se atletiekbyeenkomste gekroon is.

Emelia Fortuin, ’n gr. 11-leerder aan HTS Drostdy, het haar oorheersing in middelafstande voortgesit deur goud in die 800 m-, 1 500 m- en 3 000 m-wedlope te verower. Emelia is reeds die afgelope drie jaar die top-middelafstandatleet van Drostdy en het ook verskeie Boland- en Wes-Kaap-titels agter haar naam. Sy het die Wes-Kaap by die ASA- en SA kampioenskappe verteenwoordig en in 2023 ’n bronsmedalje in die 1 500 m-hindernis by die ASA-kampioenskap verwerf.

Grane-Lee Fortuin, ’n gr. 8-leerder aan Worcester Gimnasium, het haar talent in die 1 200 m-wedloop en in landloop getoon deur die eerste plek in al twee items te behaal. Sy het reeds Boland- en Wes-Kaapse kleure in hierdie items verwerf en wys geen teken dat sy spoed verloor nie.

Xavier Fortuin, ’n gr. 3-leerder aan Esselenpark Primêre Skool, het sy eerste groot oorwinning behaal deur die 800 m-titel by die laerskole-kampioenskap in Worcester los te hardloop. Xavier was verlede jaar die Noord-Boland-kampioen in sy ouderdomsgroep en vanjaar het hy weer sy merk op die atletiekbaan gemaak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article