Nadat die GOOD- politieke party twee weke gelede verwarring geskep het toe hy aangekondig het hy het ’n nuwe burgemeester, onderburge­meester en speaker in die Witzenberg verkies, het die DA onafhanklike hulp ingekry.

Wendy Kaizer-Philander, die DA se kiesafdelingshoof van Witzenberg, het verlede week in ’n mediaverklaring gesê die party het ’n onafhanklike regsmening oor die situasie gekry.

“’n Onafhanklike regsmening, ingewin deur die Witzenberg-munisipaliteit, verklaar dat die raadsvergadering wat op 21 Junie in Witzenberg gehou is deur ’n klein groepie raadslede, insluitend GOOD en die ANC, onwettig was. Daarom is enige besluite wat op die vergadering geneem is, nietig.”

Hierdie vergadering is gehou nadat Witzenberg-munisipaliteit se speaker op 21 Junie die geskeduleerde vergadering gekanselleer het nadat stormweer allerlei chaos veroorsaak het en die Michells-pas gesluit is. Altesaam elf raadslede het egter toe hul eie vergadering gehou waartydens hulle ’n nuwe burgemeester, onderburgemeester en speaker verkies het.

GOOD het ook ’n persverklaring vrygestel waarin hulle beweer een van hul raadslede het ’n saak van omkopery teen die Witzenberg-burgemeester, Hennie Smit, gemaak.

“GOOD het luidkeels en verkeerdelik in die media en op sosiale media verkondig dat hulle Katriena Robyn van GOOD as die nuwe burgemeester verkies het. ’n Onafhanklike regsmening het egter bevestig die vergadering en enige besluite wat daaruit spruit was onwettig,” verduidelik Kaizer in die mediaverklaring wat op 30 Junie uitgereik is.

Tot op hede beklee Hennie Smit en Elizabeth Sidego steeds die poste van die burgemeester en speaker, terwyl die pos van die onderburgemeester steeds vakant bly nadat die voormalige GOOD- raadslid Felicity Klazen uit die pos en party geskors is.

Die DA maak ook melding in sy verklaring dat die munisipale bestuurder die GOOD-raadslede verbied om die bogenoemde poste te beklee.

“Die munisipale bestuurder het in ’n brief aan die onwettig verkose ampsdraers hulle verbied om hul amp te aanvaar. GOOD het dus nie die amp in die Witzenberg-munisipaliteit beklee nie en Hennie Smit bly stewig in sy posisie as burgemeester en Elizabeth Sidego, as speaker van die Raad.

Die ANC en GOOD toon nie net ’n algehele verontagsaming van reëls en regulasies nie, maar hul obsessie om mag te kry, is afgryslik. Ons het dieselfde mag in ander dele van die land en provinsie gesien waar die Patriotiese Alliansie die ANC en sy makkers gehelp het om aan bewind te kom. Die onverskillige PA, GOOD en ANC is een en dieselfde, en gee nie meer om oor goeie bestuur en die welstand van ons mense nie.”

Verder verseker die DA inwoners van die Witzenberg dat hulle steeds hard aan die werk is om skade wat deur die storm in Junie aangerig is, reg te maak en op te ruim. “Die DA in Witzenberg wil inwoners verseker dat dienslewering ononderbroke voortgaan, dat die munisipaliteit steeds hard aan die werk is om die skade wat deur onlangse vloede aangerig is te versag en bereid is om die nodige ondersteuning te verskaf waar nodig gedurende die reënseisoen.

“Die DA in Witzenberg fokus daarop om gehaltediens aan alle inwoners te lewer en verseker stabiliteit met ons koalisievennote in Witzenberg.”

GOOD het sedert hierdie mediaverklaring van die DA nog niks rakende hierdie situasie op sy sosiale media geplaas soos voorheen nie. Standard het na GOOD uitgereik vir kommentaar en ’n mening oor die DA se onafhanklike regshulp se bevinding. Brett Herron, GOOD se sekretaris-generaal en parlementslid, het soos volg gereageer: “Ek sal vir me. Kaizer-Philander aanbeveel dat sy ’n paar dinge leer. Eerstens behoort ’n regsmening wat deur die munisipaliteit verkry is en betaal word nie aan die DA nie. Tweedens, regsopinies is bloot dit – opinies. Die nuutverkose koalisieleierskap het ook regsadvies ingewin – sowel voor as ná die vergadering waarop hulle verkies is. Daardie regsadvies het bevestig die nuwe leierskap is behoorlik verkies en daar sal by die hooggeregshof aansoek gedoen moet word vir ’n verklarende bevel.

“Die oorblywende opmerkings deur die DA-kiesafdelingshoof vorm ’n woord-slaai van byvoeglike naamwoorde. Ek dink nie hulle regverdig kommentaar nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article