Twee jong paramedici van die Wes-Kaapse Metro EMS in Ceres is vanoggend (18 September) in ’n botsing op die R43 tussen Worcester en Ceres oorlede.
Volgens Adjudant Offisier Vatishwa Jacobs van die Worcester-polisie het die ongeluk omstreeks 06:30 plaasgevind naby die Botha-wynkelder.
Dit is nog onseker wat die oorsaak van die botsing was, maar na wat verneem word was dit ’n botsing reg van voor tussen die ambulans en ’n swaar motorvoertuig.
Ivan Naidoo, distriksbestuurder van Metro EMS het aan Standard gesê dat twee van hulle jong paramedici van Ceres hul lewe in hierdie noodlottige botsing verloor het. Die bestuurder van die trok is ongedeerd.
“Op hierdie stadium duur ’n ondersoek voort. Die twee paramedici het ’n pasiënt afgelaai by die Worcester-hospitaal en teruggery Ceres toe. Op pad het hul gebots met die trok. Ons ander spanne en nooddienste op die toneel het hul beste gegee, maar alle pogings was tevergeefs. Ons moes ’n redelike tyd spandeer om hul uit die wrak te kry en daarom was die pad ook gesluit gewees.”
Die polisie het verder bevestig dat ’n saak van strafbare manslag geopen. ’n Geregtelike doodsondersoek duur voort.





