Ten spyte van gestremdhede laat Wilmarie Pekeur (links) en Shani Little niks in hul pad staan nie.


Twee vasberade siggestremde vroue van Worcester het weer eens bewys hulle sal nie toelaat dat gestremdheid in hul pad staan om sukses te behaal toe hulle verlede week hul honneursgrade ontvang het nie.

Shani Little (43) en Wilmarie Pekeur (34) het al die struikelblokke op hul onderskeie paaie met finesse oorkom – en saam-saam mekaar gemotiveer om by die wenstreep uit te kom.

Little, wat blind gebore is, het haar honneurs in sielkundige berading bekom. Sy het hierdie graad gekies omdat sy nog altyd wou weet wat mense se gedrag beïnvloed.

“Ek het baie vroeg al begin belangstel in mense se optrede en hoekom mense optree. Wat sit agter padwoede; hoekom doen mense sekere dinge op sekere maniere – dis wat ek wou weet,” verduidelik Little.

Sy het egter al in 2001 met haar studies begin, maar het nie lank daarna nie opgeskop.

“Dit was vir my baie moeilik. Daai tyd toe is die boeke nog op kassette opgeneem en ek moes met ’n skriba skryf. Dit was net hopeloos te moeilik vir my. Toe hou ek op en die lewe het aangegaan. Ek het toe later by die Pines-kliniek begin werk waar ek gereeld met mense wat depressielyers was, in kontak gekom het. Hulle het baie met my gepraat en ek het nie geweet hoe om hulle te help nie. Dis toe ek besef het ek kan nie my studies so opgee nie.”

Pekeur het op haar beurt ’n honneursgraad in mediastudies verwerf. Sy is van geboorte af swaksiende en werk tans as ’n ontvangsdame by ’n motorhandelaar in die dorp.

“Ek het altyd geweet ek is ’n kommunikeerder. Ek was nog altyd geïnteresseerd in mense se oriëntasie en die uitbeelding van ons mense in die media. Ek wil ook eendag meer van ons mense se positiewe stories in die media vertel. Dit fassineer my,” verduidelik Pekeur.

Sy het onder meer ook ’n skryfkursus saam met die bekende skrywer Rachelle Greeff voltooi, en doen reeds vryskutwerk vir verskeie publikasies.

Albei vroue stem egter saam dat dit weens hul gestremdhede uiters moeilik vir hulle was om te studeer.

“Die leermateriaal was altyd laat. Daar is nie baie materiale in braille beskikbaar nie. Die eenheid vir gestremdes by Unisa is ook onderbeman, dus kom hulle nie altyd by jou uit nie. My frustrasie is anders omdat ek swaksiende is. Ek kan vir ’n kort tydjie op die skerm kyk, maar dan moet ek oorslaan na die skermleser. Soms was die formaat waarin die werk was, onleesbaar.”

Little beaam hierdie stelling.

“Die leermateriaal is ’n struikelblok. Baie daarvan is oudio en nie genoeg braille nie.”

Noudat hulle albei hul graad verwerf het, wil hulle graag blindes se pleidooi in hierdie opsig onder die regte mense se aandag bring.

“Ons wil nie net van die staat afhanklik wees nie. Ons aspireer ook om meer te doen met ons lewe. Daar bestaan ’n stereotipe dat blindes altyd hulp nodig het en dat ons nie noodwendig ander mense kan help nie. Maar ons kan net so veel soos ander vir ons gemeenskap doen; ons kan net so van hulp wees,” meen Little.

Pekeur is van mening dat die twee van hulle baanbrekers gaan wees.

“Ons wil die pad vorentoe vir ander in ons posisie makliker maak. Ons wil terugploeg en teruggee aan die gemeenskappe wat ons al die jare ondersteun. Ons dring aan op waardige werk.

“Ons kan ook prokureurs en onderwysers wees; ons kan ook professionele poste beklee. Om op te gee, is nie in ons DNS ingebou nie. Ons staan vir niks terug nie.”

Albei stem saam dat hulle graag motiveringspraatjies wil begin doen. “Ons wil graag ander bemoedig deur middel van motiveringspraatjies. Enige kerke of skole of organisasies kan ons nooi om praatjies by hul byeenkomste te kom lewer. Hulle kan my per e-pos by Shanilittle@icloud.co.za kontak.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article