Twee mans is verlede Donderdag (5 Oktober) in De Doorns doodgeskiet.
Volgens ’n woordvoerder vir die De Doorns-polisie het die voorval net voor 17:00 by die sirkel in Stofland plaasgevind.
“Volgens inligting het hulle oor geld gestry. ’n Taxibestuurder en nog ’n man is doodgeskiet. Daar was drie skieters, maar hulle het van die toneel af gevlug,” verduidelik die woordvoerder.
Volgens ’n inskrywing wat op ’n Facebook-blad van die De Doorns-gemeenskap gemaak is, het die skietery in ’n taxi plaasgevind.
“Vier skote klap uit ’n taxi uit en weer ses skote van die sirkel af. Drie mans hardloop by die dam langs die brug op pad na die N1 en klim in ’n silwer motor en jaag weg. Mense hardloop nog steeds en skote klap nog steeds,” het die inskrywing gelui.
Die skrywer van die sosialemedia-inskrywing vra later in dieselfde boodskap wat in die dorp aan die gang is: “Mense, wat gaan aan in ons plek? Ek vra die vraag vir dié wat so klomp hokke het om uit te verhuur en dis om nie te werk vir geld nie.
“So, enigeen kan kom en doen wat hulle wil. Ons plek is in sy hel,” lui ’n uittreksel van die plasing.
Die plasing het baie kommentaar deur inwoners ontlok. Dit sinspeel daarop dat baie inwoners van informele strukture onwettig hier is.
Die polisie kon nie die drie skieters se nasionaliteit bevestig nie, hoofsaaklik omdat niemand nog weens die skietvoorval in hegtenis geneem is nie.


