Charlton Scholtz, Montague se losskakel, glip deur ‘n gaping in sy span se Groot- uitdaagbeker-wedstryd met sy buurman, Villagers Montagu. Montagu-klub wen met 41-20. Foto: Norman Evertson

Norman Evertson

MONTAGU. – Ná die tweede ronde van vanjaar se Groot- uitdaagbeker-kompetisie bevind die Montagu-klub hom tans in die tweede plek en tussen die voorlopers in die Breë-Langeberg-afdeling van dié kompetisie.

Robertson Town (1ste) en Rawsonville United (3de) is die ander vroeë voorlopers. Op die nie-amptelike punteleer staan dié gemelde spanne ná twee ligawedstryde op 10 punte elk.

Hou-blou-hou, soos die Montagu-klub bekendstaan, het verlede Saterdag (15 Maart) min moeite ondervind toe hy sy buurman, Villagers Montagu (Sesduim), met 41-20 oorrompel het. Hou-blou-hou het vroeg in die wedstryd op die King Edward-sportterrein sy bedoeling duidelik gemaak toe Ronaldo Koker binne die eerste minuut gaan druk het.

Sesduim het nie lank hierna nie sake weer gelyk gemaak toe Bradley Ruiters na volgehoue druk gaan druk het. Lee van Oordt se suksesvolle doelskop het die telling na 7-7 geneem.

Met die aanbreek van rustyd was die telling steeds 14-7 in Hou-blou-hou se guns. Ná die blaaskans het Sesduim teruggeveg en met 15-14 die leisels oorgeneem.

Tot op daardie stadium was Sesduim nog sterk in die prentjie, maar Hou-blou-hou het na ‘n hoër rat oorgeskakel en Sesduim van sy voete af gespeel. Hou-blou-hou se driedrukkers in die tweede skof was Gershwin Alberts, Jenovan Soldaat, Handré Ontong (sy tweede) en Devandre Adendorff. Verder het Ryan George met ‘n strafdoel geslaag, terwyl Scholtz vier doelskoppe tussen die pale deurgestuur het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article