Saterdag 16 Desember vind die heel eerste Touwsrivier-toekennings plaas.
Die toekennings is die geesteskind van Clemence Thomas, ’n onderwyser in die dorp, sowel as die plaaslike ATKV-tak se voorsitter. Thomas het die idee gekry toe hy ’n paar jaar gelede na die ATKV se mediaveertjie-toekennings gekyk het.
“Ek het gedink hoekom kan ons nie dit in ons dorp doen nie. Dit is ook ’n manier om die kinders op die dorp te wys wie hul rolmodelle kan wees,” verduidelik Thomas.
Hy noem ook as een van die redes waarom hy dié toekenningsaand wou hou is omdat soveel suksesvolle mense van Touwsrivier afkomstig is.
“Daar is baie mense van Touwsrivier wat suksesvol is, maar hulle verlaat die dorp, so niemand weet regtig van die suksesse wat hulle behaal nie.”
Die Touwsrivier-toekennings het 12 kategorieë en gaan toegeken word aan individue wat besonderse prestasies behaal het. Mense sal in die volgende kategorieë vereer word:
. Touwsrivier se eerste mediese dokter;
. Die eerste doktor;
. Sport;
. Kultuur;
. Mense wat ’n besonderse rol gespeel het om kinders te help om verder te leer, met registrasie help, nog voor daar rekenaars was;
. Iemand wat altyd die dorp se ouers help wanneer hulle hul kinders by ’n universiteit moes inkry;
. ’n Persoon wat altyd na omgewingsake omsien;
. ’n Persoon wat altyd die vrou van die dorp ophef;
. Touwsrivier se eerste joernalis; en
. ’n Persoon wat bo sy omstandighede uitgestyg het en nou ’n skoolhoof is.
Thomas maak melding dat twee persone in sommige kategorieë toekennings gaan ontvang.
Die formele funksie sal 16 Desember gehou word, met Lyntjie Jaars as die seremoniemeester.
’n Touwsrivier-inwoner, Joshua Perrang, sal haar in hierdie taak bystaan.
’n Driegangmaaltyd sal ook aan gaste voorgesit word.
“Ons gaan ook verskeie optredes deur verskeie plaaslikes hê. Daar is twee dogters van die dorp wat hul eie digbundels het en hulle gaan vir ons gedigte daaruit voorlees. Daar gaan rieldansers optree, jongelinge van die blaasorkes en soveel meer.”
Hy voeg ook by dat hy besonders opgewonde is hieroor “en dat dit goed deur die gemeenskap ontvang sal word”.
“Ons hoop om hierdie toekennings ’n jaarlikse of tweejaarlikse instelling op die dorp te maak.”
Vir die funksie kan net 150 kaartjies verkoop word en volgens Thomas is daar nog ’n paar kaartjies oor.
. Kontak Clemence Thomas by 076 757 9735 vir kaartjies.



