Touwsrivier-toerisme, tesame met ander belanghebbendes soos die Kaapse Wynland-distriks- en Breederivier-munisipaliteite, het verlede week die strate van Touwsrivier oorgeneem om die hele dorp vir Mandela-dag te trakteer.
Nog nooit tevore in Touwsrivier se geskiedenis het soveel entiteite so naatloos en in sulke harmonie saamgewerk soos op Mandeladag 18 Julie nie, wat gelei het tot wat net as ’n geskiedkundige gebeurtenis beskryf kan word. En so baie private en openbare organisasies het kragte saamgesnoer, altesaam 67, om die dorpie Touwsrivier op te hef en uit te reik na die gemeenskap.
Van die vele projekte wat aangepak is, was die verf van die vervalle maar eens statige Douglas Hotel, skoonmaak van die begraafplaas, opknap van kleuterskole en dan is die gemeenskap ook getrakteer met vermaak en eetgoed.
Die spanne wat deelgeneem het, was Breedevallei-munisipaliteit, gemeenskapswerker-programme, Rastafarier-vereniging, Compassionate Hearts, Aquila Collection ARC, Eco Synergy, RAM (Rescue Among Many), Kroonplaas-restaurant, OK Express, Coca-Cola Peninsula Beverages, plaaslike primêre skole, Doornkloof & IWESCO, Kruisrivier-bewaringsgebied, Touwsrivier-toerisme, Commuter Transport Engineering en Transnet.
Van die projekte wat aangepak is in hierdie reuse- skoonmaak was om skoon te maak by die stasie, die ou Douglas Hotel is geverf en venters reggemaak, die brug by Loganstraat is geverf, so ook die historiese Logan-huis, Touwjieland Crèche is opgeknap, Touwpark se heining is verfraai en bome is geplant in Gideon Joubert-park.
Verder is 5 000 maaltye aan behoeftiges in die gemeenskap uitgedeel.
Touwsrivier-toerisme, wat grotendeels die dag geïnisieer het, wil grag ieder en elk wat hierdie dag ’n reuse-sukses gemaak het, bedank.





