Die voorblad van die boek Cause Célèbre, A Biography of Bevil John Rudd wat pas uitgegee is, beeld Dotty Tiyo en die Touwsrivierder John Rudd uit, wat tronkstraf uitgedien het omdat hulle die destydse Ontugwet oortree het.


Cause Célèbre, A Biography of Bevil John Rudd, ’n biografie van een van Touwsrivier se bekendste inwoners, is onlangs in die Verenigde Koninkryk uitgegee.

Die skrywers van die boek is Lin Mehmel en Patrick Streeter, afstammelinge van Leonard Streeter, ’n destydse redakteur van Standard.

Bevil John Rudd, alombekend as Mister Rudd, was ’n bekende boer en ontwikkelaar in die Touwsrivier-omgewing. Hy het later Worcester toe getrek.

Rudd is op 7 April 1927 in Kimberley gebore. Hy is ’n afstammeling van Charles Rudd, ’n stigterslid van die Suid-Afrikaanse diamantmynreus, De Beers. Sy pa, Bevil Rudd, was ’n 400 m goue medaljewenner by die Olimpiese Spele van 1920.

Rudd was ’n ervare reisiger en het in verskeie lande gewoon en gereis, maar Suid-Afrika was waar sy siel rus gevind het.

Hy is op 31 Augustus 2009 in die ouderdom van 82 oorlede nadat hy ’n vol lewe gehad het as ’n wagtebeampte, sakeman, joernalis en veeboer.

Rudd het in die vroeë 1990’s die plaas Karbonaatjeskraal (vandag Karoo 1) langs die N1 net buite Touwsrivier gekoop. Dit is later in ’n gasteplaas omskep.

Hy is veral geken vir sy goedhartigheid teenoor sy werkers en vriendelikheid teenoor die Touwsrivier-gemeenskap.

“Hy het altyd in jou behoeftes voorsien en geglo net soos die gastekamers mooigemaak word, só ook moet die werkers se huise onderhou word,” vertel Elsabie Andrews, wat twaalf jaar vir Rudd gewerk het.

“Dít het ek nou weer van die Engelsman gehou. Jy was nie net sy plaaswerker en jou huis kan daarbo soos kiepie lyk en die gaste se kamers lyk grênd nie.”

Volgens haar het hy nie verwag dat sy werkers Engels moes leer praat nie, maar het eerder self Afrikaans geleer om hulle te akkommodeer.

“Ek het altyd vir hom Afrikaanse woorde soos ‘goeie môre’ en ‘hoe gaan dit?’ op ’n bladsy geskryf en só het hy geleer,” vertel Andrews.

“Ons het later agtergekom hy verstaan die taal toe hy skelm begin lag het terwyl ons werkers Afrikaans met mekaar praat.”

Rudd het in 1961 ’n opskudding veroorsaak toe hy in hegtenis geneem is vir die oortreding van die destydse Ontugwet toe hy in die bed betrap is met Dotty Tiyo. Dié wet het mense verbied om verhoudings oor die kleurgrens te hê.

Daar is destyds juis bespiegel dat Andrews en Rudd ook ’n skelm verhouding gehad het, maar sy het dit ontken en gesê: “Hy het my aangeneem as sy peetkind.”

Rudd het die plaas in 2009 verkoop met al die personeellede as deel van die kontrak.

“Hy het seker gemaak ons behou ons werk toe hy gaan aftree het. Dit het ons hard getref toe hy gesterf het. Ons het altyd gesê hy sou nie lank leef as hy moes trek nie, want hy was ’n boer in murg en been.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article