Die seëvierende rugbyspan van Touwpark saam met jong ondersteuners ná sy goeie oorwinning van 40-14 teen De Doorns United.Foto: Petrus Saal


Touwpark RVK het Saterdag (31 Augustus) bewys hy is onteenseglik die Breërivier-streekuitdaag-kampioen nadat hy De Doorns United (DDU) die loef afgesteek het in sy agterplaas.

Touwpark-A het die Breërivier-streekuitdaagliga onoorwonne afgesluit en die B-span het ook nie op hom laat wag nie toe hy vir al die ander B-spanne in die Breërivier-streekuitdaag-liga die tong uitgesteek het.

Touwpark-A het DDU met 40-14 afgeransel, terwyl Touwpark-B DDU se tweedes met 47-5 vermorsel het.

Die wedstryde het met hoë intensiteit begin want DDU wou ’n punt bewys, maar die Touwpark-krygers het gewys dat hulle vir besigheid in die vallei is en dat dié span vir niemand gaan terugstaan nie.

Touwpark het eerste bloed geruik toe Cameron Goliath (flank) oorgaan vir ’n drie en die immergroen losskakel, Clayton Isaacs, geen fout met die doelskop gemaak het nie.

Die humeure het opgevlam want Touwpark se een senter is met ’n geelkaart afgestuur om te gaan afkoel. DDU het dié strafskop oorgeskop.

Die twee kapteins van die spanne was in ’n relletjie betrokke en die skeidsregter, ????? Valentyn van Rawsonville, het besluit die twee leiers moet ook in die koelte gaan sit.

DDU het ’n drie gedruk, wat die telling 8-7 in DDU se guns gedraai het. Maar kort hierna is Touwpark se haker, Donny Bostander, oor vir ’n drie en Isaacs was weer eens in die kol met die doelskop. Die telling het na 14-8 in Touwpark se guns opgeskuif.

DDU het ’n strafskop gekry wat deur die pale geklits is (telling skuif 14-11).

Touwpark het DDU se koppe so dronk gespeel dat hulle uitgehaak het en die skeidsregter het ’n strafdrie aan Touwpark toegestaan ná ’n goeie dryfmaalbeweging vyf meter van DDU se doellyn af. Die telling het na 21-11 in Touwpark se guns opgeskuif.

By die aanvang van die tweede helfte was Touwpark vuur en vlam en sy stut Zinzan Brooke Makaton is oor vir sy drie.

DDU het weer ’n strafskop gekry wat hy tussen die pale deurgejaag het en die telling het na 26-14 aangeskuif. Asof dit nie genoeg was nie, het die drieëvraat Leighton Kotella – op sy verjaardag – besluit hy moet sy span met ’n asemrowende drie verras. Isaacs hert seker gemaak met die doelskop.

Die flank Juan van Nooy van Touwpark is ook oor vir ’n pragtige drie ná goeie samespel van Touwpark, wat Isaacs verdoel het.

Die eindfluitjie het met die telbord op 40-14 en Touwpark het as die koning van die Breërivier-streekuitdaagliga in die Boland uit die stryd getree.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article