TOUWSRIVIER – Touwpark RVK het Orchard R.V.K. Saterdag (6 Julie) in die Touwpark-rugbystadion (die Hok) in Touwsrivier verwoes deur hom 121-11 af te ransel en in die proses 19 drieë opgestapel, wat ’n strafdrie ingesluit het.

Touwpark was in alle fasette verwoestend en het die losgemale met brute krag oorheers. Die regtervleuel, Chadwin Nicolaas, het eerste bloed geruik en oorgegaan vir ’n vyfpunter wat deur Clayton Isaacs verdoel is. Kort daarna het Tyle Willemse gedruk en toe kry Touwpark boonop ’n strafdrie. Asof dit nie genoeg was, het die flank Juan van Nooy ook gaan druk.

Die haastige buitesenter, Leighton Kotella, het sy spoed en vernuf gewys en ook agter die doellyn gaan kuier. Olivier het verdoel. Kotella het besluit hy is nog nie klaar nie en weer gedruk. Olivier het seker gemaak met die doelskop.

Tyler Willemse het ook weer sy spoed gewys en weer agter die doellyn gaan kuier, wat Olivier verdoel het. Orchard het ’n strafskop gekry wat hy deur die pale gejaag het. Orchard het aangeval en sy eerste drie gedruk. Die doelskop was mis en die manne gaan drink water met die telling op 49-88 in Touwpark se guns.

Die tweede helfte het skaars begin toe Touwpark die pap dik aanmaak en die slot Chalton Matthys gaan druk. Die doelskop was egter mis, maar Chadwin Nicolaas het nog ’n drie gedruk.

Die skeidsregter Valentyn het sommer lekker oefening ingekry, want die plaasvervanger-stut, Zinzan Makaton, het ook gaan druk, wat Isaacs verdoel het. Die jongeling Olivier het ook aan die drieë-partytjie deelgeneem en sy drie sommer self verdoel ook.

Die veteraan-skrumskakel, Burton Verhoog, het gewys ervaring kan nie gekoop word nie en gedruk nadat hy die verdediging gepypkan het.

’n Groentjie in die A-span, Elzaano Julies, die plaasvervangervleuel, het ook gedruk ná ’n pragtige lopie wat Olivier nie kon verdoel nie.

Tyler Willemse het besluit hy het nog nie genoeg gehad nie en weer gaan druk. Die binne-senter, Dominic van Wyk, het Willemse se voorbeeld gevolg, maar sy drie is nie verdoel nie.

Elzaano Julie het weer sy spoed gewys en nog ’n drie gedruk, opgevolg deur die kaptein, Lee Philander.

Orchard het ’n strafskop gekry wat hulle oorgeklits het, wat verseker hy teken darem dubbelsyfers aan.

Die plaasvervanger-agsteman, Darren Hendricks, het ook sy staal gewys en ook agter die pale gaan kuier, waarna die eindfluitjie geblaas het met ’n reusetelling van 121 vir Touwpark en net 11 vir Orchard. Die Speler van die Wedstryd was Touwpark se kaptein.

Touwpark se tweedes het ook hul wedstryd vergewen – die telling: 57-7.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article