In die hoofwedstryd van die dag, wat skitterend deur die skeidsregter Shane Muller van Witzenberg beslis is, het Touwpark van Touwsrivier in die opwindende kragmeting met 33-31 teen McGregor geseëvier, nadat die rustyd-telling 13-12 in die wenspan se guns was.
In die wedstryd self het McGregor verwoed begin en eerste punte gekry toe die buitesenter, Salmon Mattys, oorgaan vir ’n drie. Hoewel die losskakel, Clayton Isaacs, die agterstand met ’n netjiese strafskop laat krimp het, het McGregor weer punte gekry toe Alban Adendorff (slot) gaan druk en Reagan Jagers (losskakel) met die doelskop geslaag het om McGregor met 12-3 te laat voorloop.
Touwpark het terug in die prentjie gekom toe Dominic van Wyk (linkervleuel) oorgaan vir ’n drie en Isaacs verdoel het. Kort voor rustyd het Isaacs met ’n strafskop geslaag om sy span teen rustyd met 13-12 te laat voorloop.
Touwpark het sy voorsprong kort ná rustyd gerek toe Isaacs met nog ’n strafskop slaag. Hulle het boonop die wind doeltreffend gebruik en in McGregor se gebied geboer.
Van Wyk is hierna oor vir sy tweede drie en met Isaacs wat weer verdoel het, het die voorsprong na 23-12 gerek.
McGregor het egter nooit bes gegee nie en self met ’n verwoede aanslag vorendag gekom en Syderen Hull (linkervleuel) het vir ’n onvervyfde drie oorgegaan.
Isaacs het egter met nog ’n strafskop geslaag om Touwpark se voorsprong na 26-17 te rek.
Ricardo Pheiffer (flank) is hierna vir Touwpark oor en met Isaacs wat verdoel, het die voorsprong na 33-17 gerek.
’n Strafdrie is egter aan McGregor toegeken en die agterstand het na 24-33 gekrimp. Jovan Jordaan, McGregor se plaasvervanger-losskakel, is hierna oor vir ’n drie wat Jerwin Cupido (skrumskakel) verdoel het om die telling op 33-31 in Touwpark se guns te bring.
’n Naelbyttyd vir albei spanne het aangebreek, met Touwpark veral wat skitterend verdedig en uiteindelik as die wenner uit die stryd getree het.
Hiermee het Touwpark ook verseker dat hy volgende jaar in die Grootuitdaagkompetisie van die Langebergstreek van die Boland-rugbyunie sal speel.




