Die enigste sport waarin mense agteruit moet beweeg om te wen – dis toutrek, wat ook ’n gewilde sport vir meisies is.

HTS Drostdy se 480 kg-toutrekspan vir meisies gaan Suid-Afrika in September by die 2022-wêreldkampioenskap in Nederland verteenwoordig. Hiervoor het die span in die nasionale kampioenskap, wat in Maart in Malmesbury beslis is, gekwalifiseer.

“Dit was ’n groot oomblik. Ek was baie trots op die meisies,” sê Morné Visser, die afrigter van die span.

Volgens Visser werk hy met ’n driejaarplan. “Hulle is in hul senior fase en moes die jaar gewen het.”

Visser, wat ook self vroeër nasionale kleure in toutrek verower het, sê om nasionaal juniors af te rig, is nogal ’n aanpassing, aangesien dit sy eerste keer is. Hy is ook aangewys om die senior nasionale toutrekspan af te rig.

Die koste van die toer is R29 000 per spanlid, maar hulle sukkel behoorlik om genoeg geld in te samel.

“Die junior vereniging het nie die geld om ons te help nie, dus is elkeen maar verantwoordelik vir haar eie toerkoste.”

Visser sê die gesukkel om geld in te samel, is omdat ondernemings ook sukkel om ná covid op die been te kom.

“As ons borge kry, is dit R1 000 of R2 000, wat nie genoeg is nie, maar ek moet sê dit help ouers.” Die skool dra ook R750 per speler by.

Die span gaan ’n dans en ete in die skoolsaal teen R200 per kaartjie aanbied.

“Ons reken om met die dans ’n aansienlike bedrag vir ons in te bring. As dit goed verloop, gaan ons probeer om nog ’n geldinsameling voor ons vertrek te hou.”

Ten spyte van die finansiële struikelblokke is die span se visier daarop gerig om goud by die kampioenskap te wen.

“As ons teen ’n sekere skool van China kan wen, staan ons ’n goeie kans om met goud huis toe te kom.”. Lesers wat ’n bydrae wil maak, kan Morné Visser by 071 335 2810 bel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article