’n Man wat verlede week van die Oos-Kaap af na Hermanus gereis het, is in die nek gesteek kort nadat ’n sesjarige seun in sy voertuig se waentjie vasgehardloop en gesterf het.

Die voorval het Donderdag 2 Februarie omstreeks 18:45 net buite Worcester in Vermeulenstraat naby die De Wet-pad plaasgevind.

AO Vathiswa Jacobs van die Worcester-polisie het die voorval aan Standard bevestig en verduidelik dat die man en sy seun teruggereis het Hermanus toe toe die sesjarige Henzin Bokbaard gehardloop het om die pad oor te steek, maar na bewering nie die waentjie gesien het nie.

Hy het homself misgis en nie die sleepwa gesien nie. Hy het reguit daarin vasgehardloop en is as gevolg van ’n hou teen die kop dood.

Die bestuurder het dadelik stilgehou en die polisie in kennis gestel, verduidelik Jacobs.

Die seuntjie se familie het minute later die toneel besoek, waar ’n onderonsie tussen die seun van die bestuurder en Henzin se familie ontstaan het.

Die bestuurder en sy seun (wat na bewering erg ontsteld was) is toe deur familielede op die toneel geteister.

’n Woordewisseling het uitgebreek en die bestuurder se seun is toe aangerand, waarna die bestuurder tussen beide wou tree.

“Hy het sy balans verloor en op die grond geval. Hy het ’n geweldige hou teen die nek gevoel en later besef dat dit ’n steekwond was. Die bestuurder is vir mediese bystand dadelik na die naaste hospitaal vervoer,” het Jacobs bygevoeg.

Polisiebeamptes was egter reeds op die toneel tydens die voorval.

Jacobs verduidelik dat die beamptes op die toneel aandag gegee het aan die seun wat oorlede is en dat die onderonsie tussen die mans baie vinnig handuit geruk het.

“Ná die voorval het die mans dadelik weggehardloop. Beamptes moes toe aandag gee aan die bestuurder wat gesteek is. Twee van die mans het hulle later aan die polisie oorgegee en die ander man is later gevind.”

Die bestuurder is na die Mediclinic Worcester geneem, waar hy mediese behandeling ontvang het. Volgens dokters was die snywond vyf sentimeter lank, ses sentimeter diep en drie sentimeter van sy hoofslagaar af.

Intussen is al drie verdagtes, naamlik Jydon Bokbaard (28), Elton Prins (36) en Kelvin Prins (40), steeds in aanhouding nadat hulle Maandag (6 Februarie) in die landdroshof op ’n aanklag van poging tot moord verskyn het. Hulle sal op 13 Februarie weer in die plaaslike hof verskyn.

’n Oom van die oorlede Henzin het sy afsterwe aan Standard bevestig. Oproepe na die ouerpaar was teen druktyd steeds onbeantwoord.

Die polisie kan in hierdie stadium nie bevestig of die bestuurder van die voertuig aangekla gaan word of nie.

Die ondersoekbeamptes en die senior staatsaanklaer sal daardie besluit binnekort neem, het Jacobs afgesluit.

Standard het probeer uitreik na die bestuurder van die voertuig, maar alle pogings was onsuksesvol. Sy identiteit word ook weerhou aangesien hy nog nie aangekla is nie.

’n Saak van strafbare manslag word ondersoek.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article