Tom Cruise is verlede jaar ook in Johannesburg asook in Hoedspruit, Mpumalanga, gesien waar dele van sy jongste fliek geskiet is.Foto: Beeld/Foto24


Die 60-jarige Hollywood-ster en avontuursoeker Tom Cruise het einde verlede jaar ’n De Doorns-draai kom maak.

Cruise was toe terug in Suid-Afrika om die finale skote vir sy volgende Mission: Impossible-rolprent te skiet.

Hy het sy aanhangers kort ná sy aankoms terug in die land in ’n video op Instagram gegroet waar hy in ’n toneel uit die nuwe fliek iewers oor die Suid-Afrikaanse kuslyn uit ’n helikopter spring.

“Hallo almal. Hier is ons oor die beeldskone Suid-Afrika, waar ons Mission: Impossible – Dead Reckoning Part One en Part Two verfilm.

“Ek wou nie hê die jaar moet eindig sonder dat ek julle almal bedank het omdat julle Top Gun: Maverick in teaters ondersteun het nie,” het hy gesê.

In tipiese Cruise-styl, waarvoor hy bekend is vir sy waaghalsigheid en die feit dat hy die meeste van sy eie waaghalstoertjies in sy fliek self uitvoer, hou hy egter aan om met sy aanhangers te gesels terwyl hy vryval.

“Dankie dat julle ons toegelaat het om julle te vermaak. Dit is werklik die eer van ’n leeftyd.

“Ek hoop julle het ’n baie veilige en gelukkige vakansie; ons sien julle by die teater.”

’n Klein stel is as deel van sy jongste Mission Impossible-rolprent op ’n plaas buite De Doorns gebou, waar ’n baie kort toneel vir die fliek verfilm is.

Ander inwoners van Worcester het ook gesê “verkenners” is vroeër verlede jaar vir Mission Impossible elders op plase buite Worcester gewaar, waar hulle na moontlike liggings vir verfilmings gekyk het.

Volgens inligting het Cruise in Desember vir ’n kort tydjie per helikopter, wat hy ook self loods, op die De Doorns-plaas aangekom en later weer vertrek. Hierna is die stel vinnig afgebreek.

Mense bespiegel dat die nuutste weergawe van Mission Impossible die duurste fliek nog is wat gemaak is.

Cruise is self druk betrokke by produksie hiervan en het die draaiboek grotendeels byna van dag tot dag verander en verleng namate hy nuwe idees gekry het.

Cruise se Top Gun: Maverick, wat verlede jaar ’n reusetreffer was, is een van die beste geldmakers van alle rolprente. Dit is deur die Amerikaanse rolprentstigting as een van die top-10-fleiks vir 2022 aangewys.

Mission: Impossible – Dead Reckoning Part One sal in Julie vanjaar in teaters te sien wees.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article