: Gregory Kriek, Grant Swanby en Marius Weyers tydens die verfilming. Foto’s: verskaf


Die dorp Worcester het homself al talle kere geleen tot agtergrond vir die groot skerm.

Die Suid-Afrikaanse fliek Modder en Bloed, asook die Amerikaanse Dark Tower, waarin Edris Elba en Matthew McConaughey speel, is albei plaaslik geskiet.

Ferdinand van Zyl, oud-Worcesteriet, is druk besig om hierdie flieks se vervaardigers te volg.

Sy rolprent se storie speel af in die laat 1970’s tot vroeg 1980’s, dus het hy die dorp gekies omdat die argitektuur hom leen tot die gevoel van daardie era.

Hoërskool Montana (Ferdi se alma mater) en die Brandvlei-gevangenis is ook gebruik as agtergrond.

Ferdinand sê die fliek dwing mense om as’t ware onder die mikroskoop te kyk na die pyn en lyding van die grensoorlog en die wonde waarmee soldate huis toe gekeer het. Sy inspirasie kom van die Griekse woord catharsis, wat beteken die proses van die vrystelling, en sodoende verligting van sterk of onderdrukte emosies.

Die storie is geïnspireer deur dapperheid en moed – die geskiedenis van Suid-Afrika en tonele in ’n romantiese liefdesverhaal. Dit raak aan kwessies soos intrige, omstredenheid en minagting.

“Deur so ’n fliek te maak, purge jy jouself,” sê hy.

“Dit bring twee wêrelde na vore. Dié van ’n soldaat wat agter die kaplyn mense moet vermoor, maar ook terug huis toe moet keer om sy rol as pa en seun te vervul.”

Die Paarliet Gregory Kriek, Christia Visser (een van die land se beste aktrises), asook die welbekende Marius Weyers, Grant Swanby, die radiopersoonlikheid Maurice Carpede, Elsabé Daneel en Albert Maritz maak almal deel uit van die rolverdeling.

Ferdinand het in sy jongensjare by die Stargazer-bioskoop op Worcester gewerk. Dit is hier waar hy sy passie vir rolprente ontdek het. Hoewel sy studie in fotografie stimulerend genoeg was, het hy later sy tersiêre onderwyskwalifikasie in rolprentgeskiedenis, -teorie en draai-boekskryf by die Universiteit van Kaap-stad voltooi en regisseur geword.

Die titel van die fliek bly steeds ’n geheim en daar word beoog om dit teen einde volgende jaar bekend te maak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article