Toerisme-vereniging in Breedevallei gaan van krag tot krag

Worcester Toerisme
Worcester Toerisme

Worcester se Toerisme-vereniging toon aansienlike groei en het vroeër vandeesmaand (Woensdag 7 Augustus) sy jaarvergadering gehou om terugvoer aan sy lede te gee.

Volgens die bestuurder, Suzanne Scholtz, het hul ledetal van 12 lede in 2021 tot die huidige 92 gegroei. Dié groei het ook vir ‘n aansienlike toename in inkomste uit ledegeld gesorg, wat aangewend kan word om toerisme in die gebied nog beter te bemark.

Die organisasie se voetspoor op sosiale media het ook ‘n stewige sprong getoon, wat ‘n goeie platform vir bemarking bied.

Worcester Toerisme het onlangs sy kantoor na die agterkant van die munisipale kantoor in Baringstraat 53 verskuif.

Op die jaarvergadering het die waarnemende voorsitter, Alwyn de Bruyn, klem geplaas op die belangrikheid daarvan dat lede dieselfde visie het en saamwerk. Dit sal tot gevolg hê dat almal in die bedryf saam met Worcester Toerisme voordeel trek – wat op sy beurt tot voordeel van die hele Breedevallei-streek is.

Van die onderwerpe wat op die vergadering bespreek is, sluit in die toekoms van Kleinplasie en nuwe ontwikkelings in die omgewing, die nuwe permanente

uitstalling oor die geskiedenis van Worcester as Suid-Afrika se Sorgstad, die uitbouing van Worcester se Erfenisroete en die invloed van die Kaapse Wynland- distriksmunisipaliteit se jaarlikse Cape Winelands Autumn Expo.

“Ons het opwindende planne vir toe­risme in die omgewing, met Van Loveren wat nou ‘n voetspoor in die Breedevallei het met die koop van die Overhex-fasiliteite en die New Cape Central Railway wat beplan om sy stoomtreinroete tot in Worcester uit te brei,” het Scholtz opgewonde gesê.

“Ons wil graag hê dat toeriste meer tyd in die Breedevallei deurbring.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article