Wydverspreide skade is in talle dorpe in die Breedevallei- en Langeberg- munisipale gebiede tydens Sondag en Maandag se swaar reënval aangerig.
Die mees noemenswaardige is verskeie paaie wat as gevolg van oorstromings vir dae ontoeganklik was. Die R60 tussen Worcester en Robertson is sedert Maandagmiddag gesluit, terwyl die N1 by De Doorns ook vir verkeer gesluit was. Motoriste is deur Ceres herlei.
Reisigers wat op die R60 vasgekeer was, moes omdraai en in Robertson verblyf opsoek. Party het verkies om in hul motors te slaap. ’n Lang ry voertuie het van Nuy tot in die hoofstraat in Robertson tougestaan.
Behalwe dat die N1 by De Doorns geraak is, is ander dele van die dorp ook deur die swaar reën beskadig.
“Die toegangspad na die GG-kamp-nedersetting is weggespoel. Die verwagte tydsraamwerk vir herstelwerk is tans nie bekend nie, hoofsaaklik weens die omvang van water wat nog in die omgewing vloei. Gevolglik ondersoek die munisipaliteit die moontlikheid van alternatiewe toegangspaaie na en van die nedersetting,” het Hannelie Botha, ’n woordvoerder van die Breedevallei-munisipaliteit, in ’n mediaverklaring gesê.
“Die toegangspad na Sunnyside Orchard is aansienlik beskadig. Motoriste en inwoners word aangeraai om hierdie pad te vermy en kinders weg te hou as gevolg van die hoë risiko vir beserings. Owerhede oorweeg die tydelike sluiting van hierdie toegangspad om herstelwerk te vergemaklik.
“Die ontoeganklikheid van sekere padnetwerke en gebiede oor die hele dorp heen kan bydra tot vertragings in dienslewering. Die munisipaliteit bly daartoe verbind om die minimum diensleweringsvlakke in die dorp te herstel.”
Botha verduidelik verder dat opruiming reeds in sekere dele begin het.
“Owerhede is gemobiliseer om te begin met assesserings, tesame met opruimings- en herstelwerk in gevalle waar dit veilig verklaar is om voort te gaan. Ons bedank die publiek vir die ondersteuning en geduld uitgebeeld gedurende hierdie tydperk en bly verbind tot die herstel van ’n volle vlak van diens in alle gebiede so gou as moontlik.”
Geen ernstige skade is in Worcester self aangemeld nie.
“Die informele nedersetting in Zwelethemba en Avianpark is ietwat verspoel as gevolg van grondwater. ’n Munisipale span oorweeg voldoende middele om in die geaffekteerde gebiede te help.”
Geen ernstige vloedskade is in Rawsonville aangemeld nie. Die munisipaliteit maak egter melding van nog ’n weerwaarskuwing wat glo uitgereik is.
“Inwoners moet daarop let dat nog ’n ongunstige weerwaarskuwing uitgereik is, en dit bly van toepassing tot Sondag 1 Oktober. Ons spanne hou die ontwikkeling in hierdie verband noukeurig dop.”
Verskeie paaie in die Langeberg-gebied is ook tydens die swaar reënval beskadig.
’n Stuk van die Keiserhofbrug in McGregor het ook weggespoel.
Die oorstroming van die rivier het ook daartoe gelei dat kleinboere van hulle vee verloor het.
“Ek het ses van my varke verloor. Ek is al vir 20 jaar in hierdie bedryf en dit is die eerste keer dat so iets met my gebeur. Die water het so tussen 18:00 en 19:00 Maandag begin styg en ek kon eers Dinsdagoggend sesuur by my kampie uitkom om te sien wat aangaan. Ek het toe maar nou die kampie weer van voor af gebou, want alles is uit die grond geruk,” het Jan Fillies vertel.
Hy het ook vertel hoe mense se huise in die informele nedersetting op die dorp onder modder was.
“Die modder het op een tydstip dwarsdeur mense se huise gevloei. Ons het ’n hele paar mense met hul besittings gaan help. Almal is darem oukei.”
Video’s van hoe die rivier by Avalon Springs afkom, het ook op sosiale media die ronde gedoen, tesame met video’s van hoe die rivier by Ouplaas op McGregor sy oewers oorstroom.
Volgens ’n inwoner word daar tans eers ’n alternatiewe roete herstel, voordat werkers herstelwerk aan die Keiserhofbrug gaan doen.
Standard het by die Langeberg-munisipaliteit navraag gedoen om vas te stel hoe groot die skade in die streek is en watter stappe vir herstelwerk geneem sal word.
Geen terugvoer is teen druktyd ontvang nie.





