Die tiener van Riverview wat verlede Sondag haar bewussyn weens ’n asma-aanval verloor en by trappe afgeval het, is nie weens die val dood nie.
Worcester Standard het verlede week oor die tragiese gebeure berig wat tot die dood van die pragtige tiener Lyarynn Schippers (15) gelei het.
Volgens Lyarynn se ouma, Cathy Miller, het haar kleindogter ver geval toe sy tydens ’n erge asma-aanval om hulp gesoek het.
Haar skedel is wel met die val gekraak, maar in die lykskouing is bevind haar longe het in die asma-aanval platgeval en haar hart het gaan staan,
Sy is in die hospitaal dood verklaar nadat sy die middag die aanval gekry en by trappe van die Rivierview-woonstelle, waar sy saam met haar ouma gewoon het, afgeval het.
“Sy het in 2020 ook ’n reuse-asma-aanval gekry, maar hierdie keer kon hulle haar nie terugbring nie,” het Miller aan Standard vertel.
Lyarynn woon reeds van die ouderdom van 11 maande af by haar ouma.
“Lyarynn het van babatjietyd af asma gehad,” sê Miller.
Tydens die vorige groot asma-aanval is Lyarynn se linkerlong erg beskadig.
“Sy was toe seker so vyf minute bewusteloos en het toe ook blou geraak. Toe ek Sondag sien sy word blou, het ek net begin bid dat sy sal herstel.”
“Ek het gesien die dokters doen hul bes. Hulle het later gesê sy was eintlik al dood toe sy by die hospitaal aankom. Haar regterlong was moeg en die asma-aanval was net te veel.”
Miller sê dit gaan baie swaar, veral as sy soggens opstaan en skoolkinders sien.
“Ek het haar elke oggend vir skool wakker gemaak. Haar naam was die eerste wat ek soggens geroep het as ek opstaan. Daai pragtige glimlag van haar mis ek meer as enigiets anders,” sê sy.
“Ek het Lyarynn vreeslik geniet. Sy het my altyd vertel hoe mooi ek is. Sy was ook lief vir deel en bak. Sy kon die lekkerste muffins maak.”
Hoewel sy baie seer het, het sy berusting gevind.
“Die Here het vir my ’n fantastiese kind gegee. Hy het die mooiste blom kom pluk,” voeg sy by.
’n Baie emosionele roudiens is Donderdag vir Lyarynn by die Hoërskool Breërivier, waar sy ’n gr. 10-leerder was, gehou.
Lyarynn word Saterdag begrawe.




