By Thusong is ’n rekenaarsentrum bekend as Cape Access. Hier is die bestuurder van Cape Access, Shaun Wells (links) by een van die studente, Caylen Nel. Foto: RICK MARAIS


Die Thusong-dienssentrum in Laingsburg is gestig met net een doel: om mense te help en hul lewens te vergemaklik.

Steven Schippers, die dienssentrum se bestuurder, sê hulle is ’n eenstopsentrum van waar plaaslike en provinsiale regerings, asook die nasionale regering en nie-regeringsdiensverskaffers hul dienste lewer aan die publiek.

“Ons is vanjaar verkies as een van die topdienssentrums in die land en het ’n bronsmedalje ontvang,” spog Schippers.

Die dienssentrum lewer die volgende dienste: jeugontwikkeling, arbeidsadvies, vaardigheidsopleiding, geboorteregistrasies, paspoortdokumente, identiteitsdokumente, vrouebemagtiging, besigheidsontwikkeling, regeringsinligting, kinder- en gesinsorg, pensioene en toelaes asook werkskeppingsprogramme.

“Ons het ook ’n speelpark waar kinders onder toesig kan speel terwyl hul ouers inkom na die sentrum toe. Sommige van die ouers kan nie hul kinders by die huis los nie,” sê Schippers.

Die sentrum het ook ’n sokkerveld en gimnasium waar mense verniet kan oefen.

“Die sentrum is sò ontwerp dat mense welkom voel om van ons dienste gebruik te maak. Elkeen van die werknemers by die sentrum verstaan waarom ons hier is en dit is om ons gemeenskap te dien,” sê hy.

Die dienssentrum is weeksdae van 08:00 tot 16:00 oop. Enigiemand uit die streek is welkom om te kom aanklop vir enige van die bogenoemde dienste.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article