Inwoners het kans tot Saterdag (9 April) om hul kommentaar en besware te lewer oor ’n nuutbeplande streekstortingsterrein buite Worcester. Talle mense beskou die besluit om die terrein hier op te rig as ’n omstrede een.
Die aansoek deur die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM) om hersonering, onderverdeling en konsolidasie van erf 4014 en 4015 om ’n streekstortingsterrein te vestig is die afgelope week skerp op sosiale media veroordeel. Of dié veroordeling vrugte gaan dra is egter ’n saak op sy eie. Dis hoekom mense nou deur verskillende organisasies gemotiveer word om besware en kommentaar op die regte manier te lewer.
Standard het verlede jaar 17 Oktober berig (“Asgat vir streek gaan voort”) oor die goedkeuring vir die verkoop van die erf aan die KWDM tydens ’n raadsitting van die Breedevallei-munisipaliteit.
Die KWDM se aansoek sluit in die konsolidasie van sekere gedeeltes van die erf, ten einde ’n nuwe grondeenheid te skep (+47,3 ha).
Die Worcester-besigheidsforum en Breedevallei Onafhanklik-party (BO) het inwoners aangemoedig om hulle kommentaar te lewer en beswaar aan te teken.
In ’n Facebook-inskrywing sê die BO: “Nog ’n vuil projek vir Worcester ‘Suid’, ’n reuse 50 ha-vullisterrein kom langs die huidige tiep, rigting Avianpark.”
Die party sê die sogenaamde streeksvullisterrein gaan die “vuil vrot, nat vullis” vanaf Langeberg, Witzenberg en Breedevallei ontvang.
“Ons het net ’n paar dae tot dié Vrydag om skriftelik beswaar teen die projek aan te dui (tot 9 April indien u e-pos gebruik). Wil u langs ’n reuse vullisgat bly, langs stinkende rioolplase en ‘n vrot afvalwateraanleg? Ons gebiede gaan agteruit, ons gesondheid ly, ons eiendomwaarde daal. Maak u stem dik.”
Inwoners word versoek om hulle kommentaar en besware per e-pos te stuur aan mm@bvm.gov.za met kopieë na planning@bvm.gov.za en BOvirdieGemeenskap@gmail.com of WorcesterOpenForBusiness@gmail.com.
Inwoners kan ook ’n oorspronklike afskrif per hand by die kantoor van die munisipale bestuurder op die eerste vloer van die munisipale hoofgebou in Baringstraat, Privaatsak X3046, Worcester 6849 afgee, voor of op 9 April. Gebruik die verwysing 10/3/3/942.
Jo-Anne Otto, kommunikasiebeampte van die distriksmunisipaliteit, het verlede jaar aan Standard bevestig dié munisipaliteit het aansoek gedoen om toestemming vir die ontwikkeling van ’n plaaslike stortingsterrein op die terrein buite Worcester.
“Dit sal ’n nuwe stortingsterrein wees, en baie spesifieke kriteria ten opsigte van die soort afval wat op die terrein aanvaar sal word, is vasgestel. Die stortingsterrein hou geen gesondheids- of veiligheidsrisiko’s in vir inwoners in die omgewing nie. Verder het die distriksmunisipaliteit die mandaat om te verseker dat die perseel bestuur word in ooreenstemming met wetgewing oor vullisterreine.
Sy het gesê die KWDM is optimisties dat die stortingsterrein die druk op die huidige terreine sal help verlig, terwyl werkgeleenthede geskep word en omgewingsafvalkwessies aangespreek word.
“Die belegging wat die distrik maak om hierdie terrein te vestig, sal ’n positiewe uitwerking op die gebied in sy geheel hê,” het Henry Prins, distriks-munisipale bestuurder gesê, “en ons sien uit daarna om die proses af te handel”.




