Altesaam 57 honde-troeteldiere (die waarvan dierewelsynorganisasies weet) het al sedert die begin van die winterseisoen vanjaar verkluim. Geen gevalle van katte wat verkluim het, is tot nou aangemeld nie.

So sê Juanita Everson van Sandy’s Animal Rescue in Worcester. Everson bestuur ook die munisipale skut in Worcester. Volgens Everson is die 57 verkluimings skokkend. Sy sê in haar altesaam 13 jaar wat sy met diere werk, het sy nog nooit so baie troeteldier- verkluimings teëgekom nie.

“Hierdie is my derde winter by die munisipale skut en dit is die ergste koue nog. Vanjaar se koue is ondraaglik.”

Volgens Everson is baba-hondjies sowat 80% van die altesame 57 bevestigde gevalle van honde-verkluimings wat hulle tot nou hierdie winter teëgekom het.

Sy sê die 57 verkluimings tot nou is in Worcester, Rawsonville, De Doorns en Touwsrivier aangemeld.

Volgens Everson is ‘n teefhond en haar altesame nege babahondjies dood in hul hondehok in Slanghoek aangetref. Al 10 het verkluim.

“Huskies en wolfhonde is gemaak vir hierdie ys-weer – nie ons gewone hondjies nie. Dis onwaar dat honde nie koud kry nie omdat hulle ‘n pels het. Hul haartjies is so dun.

“Ons as mense dra klere om warm te bly, maar al het ons ook drie baadjies aan in hierdie koue weer, kry ons steeds nie warm nie.

“Die beste manier om jou troeteldier teen die koue te beskut, is om hulle binnenshuis te hou, maar dit is nie vir almal moontlik om te doen nie – in baie gevalle woon tot twee gesinne byvoorbeeld in ‘n enkele eenvertrek-woning,” sê sy.

Everson voeg by indien troeteldier- eienaars nie in staat is om hul diere binnenshuis te hou nie, moet hulle hul diere op komberse in hondehokke, wat die ergste koue kan keer, laat slaap.

Volgens haar is dit belangrik dat die honde se beddegoed te alle tye droog moet wees, want as dit nat is, kan die diere siek raak.

“Daardie nat beddegoed kan tot verkluiming lei.”

Everson sê kartonbokse is ook ‘n moontlikheid.

“Kartonbokse is perfek, want dit reguleer hitte. In die geval van kartonbokse moet dit – veral waar babahondjies betrokke is – met koerantpapier uitgevoer word, wat ook hitte reguleer.”

Volgens Everson is daar sakke en dromme vol hondejassies asook kombersies by die munisipale skut beskikbaar.

Die skut is langs die departement van korrektiewe dienste se perseel in Worcester.

“As mense daarvan wil hê, kan hulle dit vir hul troeteldiere kom kry.

“Dis gratis.

“Ons kan nie by almal uitkom nie, maar almal weet waar die skut is. Solank ek het, sal ek vir jou gee.”

Sy doen voorts ‘n beroep op enigiemand wat daartoe in staat is om onder meer kombersies vir die troeteldiere by die skut te skenk om die skut by 076 597 3027 te skakel.

•Die nasionale Dierebeskermingsvereniging (DBV) is ook gekontak vir kommentaar, maar teen druktyd is nog geen terugvoer ontvang nie. – Enrico Claassen

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article