Sowat 13 voertuig-ongelukke het sedert Vrydag (18 Julie) tot vanmiddag (20 Julie) in en rondom die Breedevallei plaasgevind.
In een van die ongelukke is altesame ses mense ernstig beseer toe die voertuig waarin hulle gereis het gisteraand (19 Julie) op die Aan De Doorns-pad naby Allisterweg, Johnsonspark 2 in Worcester, in ’n bees wat in die pad gedwaal, vasgery het.
Die ongeluk het omstreeks 21:00 plaasgevind.
Na wat verneem word moes die bestuurder van die voertuig ná die ongeluk ’n noodoperasie ondergaan.
Geen ander voertuie was by die ongeluk betrokke nie.

In ’n afsonderlike voorval gisteraand (19 Julie) het die insittendes van ’n Jetta die dood wonderbaarlik vrygespring toe die voertuig waarin hulle gereis in die Hexrivierpas naby De Doorns aan die brand geslaan het.
Dié ongeluk het omstreeks 19:40 plaasgevind.
Na wat verneem word, het die ongeluk gebeur toe iets vermoedelik met die voertuig skeefgeloop en dit toe ’n padreëling getref het. Die insittendes kon betyds uit die voertuig ontsnap voor dit in vlamme uitgebars het.
In nog ’n ongeluk is altesame 12 mense beseer toe drie voertuie gistermiddag (19 Julie) omstreeks 14:00 in ’n ongeluk naby die depot van die Suid-Afrikaanse Brouerye (SAB) in Worcester betrokke was.
Die omstandighede rondom die ongelukke word ondersoek.





You must be logged in to post a comment.