Waylee Smile is ná ’n kort siekte oorlede.


Plaaslike musikante het die afgelope week gesteier oor die skoknuus van die dood van een van The Fleet-kersfeeskoor se mees geliefde lede.

Waylee Smile het as ’n “tiny-tot” by die koor aangesluit toe sy net vier jaar oud was.

Sy was sedert sy 15 jaar oud was lid van die koor.

Dit was haar liefde vir musiek en die feit dat sy uit ’n musikale familie kom wat haar in die koor laat belangstel het. Haar ouma het ook ’n rol gespeel in haar betrokkenheid by die koor.

Waylee, wat deur haar vriende en familie beskryf word as ’n persoon van min woorde, was ’n gr. 11-leerder aan Worcester Sekondêre Skool.

Sy het ’n glimlag gehad wat uitgestaan het.

Sy was lief vir instrumente.

Op die koorfront word sy beskryf as ’n steunpilaar.

“Sy was baie lojaal aan die koor en baie trots,” sê Wilfred September, woordvoerder van die koor.

Hy stem saam dat, hoewel sy iemand van min woorde was, sy ’n baie spontane meisie was.

“Aangesien die koor vanjaar sy 75ste bestaansjaar vier, het ons besluit om meer aandag aan die jeug te gee.

“Al ons jeug het ’n instrument leer speel en Waylee was in die laaste fase om die saksofoon te leer speel.”

September het aan Standard gesê dat die dood van die jong meisie as ’n groot skok gekom het en dat hulle boodskappe van simpatie van kore van selfs so ver as Mosselbaai ontvang het.

“Ons gaan haar baie mis. Vir ons koor is dit ’n groot slag, want ons sal nou ons feesverrigtinge sonder haar moet vier,” sê September.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article