Alle paaie lei volgende Sondag (21 Desember) na Avianpark vir die Breedevallei-gemeenskapskrieketvereniging se T15-eindstryd.
Altesaam 14 klubs het aan die uitmergelende toernooi oor twee maande deelgeneem en uitstekende krieket is oor die dorp heen opgedis. In verlede Sondag se halfeindronde kon die atmosfeer met ‘n mes gesny word soos wat die half-eindfinaliste, Pumas, Pro Eagles, Young Stars en View Giants, dit vir ‘n plek in die eindstryd uitgespook het.
Pro Eagles het op ‘n volgepakte Yorkshirepark teen Pumas gespeel en doodseker gemaak hy dring deur, terwyl Young Stars op Edengarden sy plek bespreek het deur ‘n begeesterde View Giants te klop.
Vir die Pro Eagles het Dyllun Columbus die wedstryd met twee reuse-sesse in hul guns geswaai en die telling buite bereik van Pumas geplaas. Jacquin Jacobs van Pumas het moedig en met goeie boulwerk probeer, maar die Eagles-kolwers was vasberade om ‘n goeie totaal van 85 daar te stel. Pumas kon net 66 lopies aanteken.
Young Stars het op Edengarden die loot gewen en Giants ingestuur om te kolf. Giants het ‘n heel skaflike 81 lopies voor ‘n groot skare aangeteken, maar Young Stars – met Ruben Lukas en Reginald Steyn aan die spits – het die wenlopies met nog twee boulbeurte oor bereik.
Young Stars sal nou teen Pro Eagles om die kroon meeding. Die wedstryd begin om 16:00 en behoort groot belangstelling te lok omdat albei klubs groot ondersteuning geniet.
Die voorwedstryde sal die dag lekker inkleur, waarna die eindstryd sal begin. Toeskouers moet liefs vroeg opdaag om ‘n geskikte sitplek te vind. Die volgende toernooi sal op 18 Januarie begin. – Luciano du Toit


