’n Worcesterse tandarts is die eerste vrou in die land wat nou ’n sekere soort tandheelkundige opleiding kan bied.
Dr. Yvonne Jourdan is al vir 23 jaar ’n tandarts en het ’n absolute passie vir dit wat sy doen en streef altyd daarna om haar kennis te verbreed.
Sy het nou die Cerec CAD/CAM-sertifisering. Cerec staan vir Chairside Economical Restoration of Esthetic Ceramic, wat ’n nuwe prosedure is wat rekenaarsagteware, freeswerk- of slyptegnologie en vinnige tandheelkundige hersteltegnieke behels.
“Jou tandarts kan hoëgehalte skanderings en vorms van ’n tand neem wat vervang moet word. Cerec is die voortreflike digitale stoelbehandelingservaring vir tandartse en pasiënte. Dit stel professionele tandheelkundiges in staat om tandheelkundige herstelwerk binne hul eie praktyk te vervaardig,” verduidelik Jourdan.
Sy is tans die eerste vrou in die land wat hierdie opleiding aan ander kan aanbied en het reeds met die opleiding van ander begin.
“Ek is die eerste vrou in die land wat hierdie opleiding kan aanbied. Voordat ek kon kwalifiseer om die opleiding te ontvang, moes ek eksamen skryf en ek het 92% daarvoor gekry. My motivering was dat ek vir mense wou wys, al is ons van ’n klein dorpie, ons ook kan riseandshine. Ons het ook die kennis en toerusting om dit te doen.”
Jourdan is in Oktober ’n week lank na Duitsland waar sy die opleiding ontvang het.
Haar passie eindig egter nie by haar werk nie. “Ek is ’n mense-mens en ek is lief daarvoor om uit my pad uit te gaan vir mense en selfs my pasiënte ook.”
Sy is ’n algemene tandarts wat spesialiseer in estetika en chirurgie. En omdat sy so baie omgee vir haar medemens het sy ook ’n groep, Dames in tandheelkunde, begin, waardeur sy jonger, vroulike tandartse bemagtig.
“Dis soos ’n mentorskap vir jong vroue wat by enige aspek van tandheelkunde betrokke is. Toe ek as tandheelkundige begin het, was daar nie mentors na wie ek kon gaan wat dalk dieselfde dinge as ek ervaar nie, of net iemand wat advies oor die bedryf met my kon deel vanuit die perspektief van ’n vrou nie. Dus het ek hierdie groep begin om aan vroue tandheelkundige ondersteuning te bied.
“Of jy ’n stoelassistent of mondhigiënis is, jy is welkom om by die groep op Facebook aan te sluit. Ons gaan vroeg in volgende jaar ook ’n byeenkoms hou.”
Sy bied ook gratis dienste aan plekke soos NID, Pionierskool en Sean Kelly.





