Met sy ryk geskiedenis, mooi historiese geboue en heerlike restaurante is Swellendam, wat net ’n klipgooi van die Breederivier geleë is, net die plek om te besoek. Die pragtige dorp is op die oewer van die Koringlandsrivier geleë.
Swellendam is volgens Wikipedia die derde oudste dorp in Suid-Afrika en het iets wat in elkeen se smaak sal val.
Die dorp is vernoem na die eertydse Kaapse goewerneur Hendrik Swellengrebel, die eerste goewerneur wat in die Kaap gebore is, en sy vrou, Helena Ten Damme, met wie hy in 1728 getroud is.
Die dorp pronk met baie sierlike geboue uit die ou dae, wat behoue gebly het. Een van hulle is die Drostdy-museum. Die Ou Drostdy-gebou is ’n pragtige voorbeeld van die destydse Kaaps-Hollandse argitektuur en dien vandag as ’n kultuurhistoriese museum. Die Drostdy is in 1747 gebou en was die woning van die landdros. Die eerste landdros vir die distrik was Johannes Theophilus Rhenius.
Die eerste kerk is in 1802 gebou en die Nederduitse Gereformeerde kerk met sy vier argitektoniese style is in 1910 op die perseel van die eerste kerk (1802) opgerig.
’n Ander besienswaardigheid is die kerkie van St. Lukas, wat uit 1865 dateer.
Ander belangrike historiese geboue sluit onder meer in Morgenzon, die Olyfkrans-kollege-gebou, die Residensie, die Rothman-huis en die Oefeningshuis, ’n skool vir minderbevoorregte kinders.
Nog ’n interessante brokkie geskiedenis is dat Francis William Reitz, staatspresident van die destydse Oranje-Vrystaat, in Swellendam gebore is.Wat om in en om Swellendam te doen:
. Besoek die vele restaurante met hul unieke spyskaarte. Etlike pronk met tradisionele Suid-Afrikaanse geregte;
. Besoek Bukkenburg Pottery Studio en leer meer oor pottebakkery as ’n kunsvorm;
. Jy kan jou eie bessies by die Berry Guest Farm pluk en jou aan die mooi natuurskoon verlustig;
. Word stil en een met die natuur by die Bontebok Nasionale Park;
. Die Tradouwpas tussen Swellendam en Barrydale is een van die mooiste roetes wat jy kan volg;
. Net ‘n klipgooi van Swellendam is die Malgas-pont, wat jou na Witsand sal neem; en
. Jy kan by een van verskeie kampeerplekke en natuurreservate vir ’n naweek of ’n vakansie ontspan.





