Enrico Claassen

‘n Man van die plaas Uitvlug in die Rawsonville-omgewing is verlede Woensdag (19 Maart) in die Worcester-streekhof lewenslank tronk toe gestuur nadat hy sy lewensmaat met ‘n mes doodgesteek het.

Die skuldige, Damon Jobs (53), en die oorledene, Kristien de Wee (48), wat hul hele volwasse lewe in ‘n romantiese verhouding was, het ten tyde van die tragedie nog onder een dak gewoon.

Op 11 Augustus 2023, die dag van die voorval, het Jobs onder die invloed van alkohol by sy en De Wee se woning opgedaag.

‘n Stryery oor drank het tussen hom en De Wee uitgebreek nadat sy hom oor sy alkoholgebruik gekonfronteer het. Toe De Wee die woning ná afloop van die stryery wou verlaat, het Jobs ‘n mes gegryp en haar in die bors gesteek.

De Wee het kort hierna aan haar wond beswyk. Jobs is dieselfde aand nog op die plaas Uitvlug in hegtenis

geneem. Hy het tydens die hofverrigtinge skuig op die moordklag beken.

Die staat kon geen vorige veroorde-

lings teen hom bewys nie.

William Pietersen van die regshulp- raad, Jobs se regsverteenwoordiger, het die hof ter versagting van vonnis gevra om in gedagte te hou dat alkohol op die dag van die voorval ‘n rol gespeel het en dat hierdie Jobs se eerste oortreding was. Hy het die hof ook gevra om in gedagte te hou dat sy kliënt verantwoordelikheid vir sy dade aanvaar en berou getoon het. Om hierdie redes het hy die hof gevra om Jobs te begenadig deur af te wyk van die voorgeskrewe vonnis van

lewenslange tronkstraf.

Die staatsaanklaer, Jaymee January, het ter verswaring van vonnis gesê dit kan nie genoeg beklemtoon word hoe ernstig hierdie oortreding is nie en hoe dikwels dit binne die hof se jurisduksie voorkom nie. “Met alle respek, ons kan nie ‘n presedent skep waar, nadat iemand aan moord skuldig bevind is, ‘n moontlikheid bestaan dat die skuldige nie tot die minimum voorgeskrewe tronkstraf gevonnis word nie.

“Dit is die staat se nederige betoog dat indien ons hierdie aanname skep, gaan die gemeenskap vertroue in die hof en regstelsel verloor. Die reeds toenemende moordsyfer sal eksponen-

sieel toeneem as hoop van ‘n korttermyn-tronkstraf geskep word.”

January het voorts genoem dat Jobs skuldig bevind is aan die moord van sy lewensmaat – iemand wat hy veronderstel was om te beskerm.

Volgens January het Jobs ook geen wesenlike en dwingende omstandighede voor die hof geplaas om af te wyk van die voorgeskrewe minimum vonnis nie.

Die saak het voor waarnemende streeklanddros Francois Lamprecht gedien.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article