Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ’n waarkskuwing uitgereik oor intense koue en sneeu wat oor die naweek oor die Wes-Kaap en Namaqua-streek van Noord-Kaap verwag word.
’n Geel (L4) waarskuwing is uitgereik van ontwrigtende sneeu vir Beaufort-Wes, Breedevallei, Kannaland, Karoo Hoogland, Laingsburg, Langeberg, Oudtshoorn, Prins Albert en Witzenberg.
Volgens die Weerdiens sal ’n intense laagdrukstelsel na verwagting die Wes- en Noord-Kaap van Vrydagaand tot Sondag affekteer, wat sal lei tot sneeuval oor die meeste van die hoogliggende gebiede van hierdie provinsies.
Sneeuvalle so diep as 5 cm word verwag oor die berge van die Kaapse Wynlande (Matroosberge en Koue Bokkeveldberge) en Klein-Karoo (Swartberge), maar nog swaarder sneeu neerslae, 5-12 cm, kan verwag word oor die berge van die suidelike hoogland van Namakwa- en Sentraal-Karoo-bergreekse, tussen vroegoggend Saterdag en Sondagoggend.
Hierdie hoë sneeu ophoping kan daartoe lei dat die meeste bergpasse gesluit word en sommige gemeenskappe tydelik ontoeganklik los.
Hierdie sneeu in hoogliggende gebiede kan ysige en moeilike rytoestande op bergpasse tot gevolg hê.
Boere met kleinvee en gewasse in hoogliggende gebiede word gewaarsku dat hul vee en oeste kwesbaar kan wees in sneeutoestande.





