Swaar Kerstyd lê voor vir gesin ná seun van HTS Drostdy onverwags sterf

Daniël Swart (15) is onverwags oorlede. Foto: verskaf

‘n Gesin van Worcester se harte is stukkend ná die onverwagse dood van hul vyftienjarige seun, Daniël Swart.

Die gesin, wat soos talle ander Suid-Afrikaanse gesinne uitgesien het na ‘n somervakansie met sonkyn, swem en kuier saam met familie en vriende, se lewe is wreed tot stilstand geruk op Vrydag 12 Desember. Daniël was nie vooraf siek of gehospitaliseer nie en sy dood het as ‘n groot skok gekom.

Sy ma, Lita, sê haar seun is volgens dokters aan natuurlike oorsake oorlede.

“Daniël het baie gehou van die see, om op die strand te stap en te swem. Hy het altyd mooi foto’s van die sonsondergange geneem,” het sy gesê.

“Hy was kunssinnig en kreatief en het gehou van mooi goed soos kerse wat lekker ruik en ontwerp. Sy droom was om eendag in binnenshuise ontwerp of argitektuur te studeer. Een van sy drome was ook om oorsee te reis en nuwe plekke te gaan ontdek.”

Daniël Swart (15) is onverwags oorlede.

Daniël was ‘n gr. 9-leerder aan die Hoër Tegniese Skool Drostdy en het sy laerskoolloopbaan by Worcester-Noord Primêre Skool voltooi.

Hy was lid van ‘n hegte vriendegroep en hulle het graag geswem, bordspeletjies gespeel, musiek geluister en sommer net lekker saam gelag en laf gewees.

“Ons het so baie mooi herinneringe saam met hom van naweke en vakansies in Struisbaai, asook kuiers by familie in Boesmanland. Hy was ‘n baie liefdevolle, saggeaarde kind. Al was hy stil en teruggetrokke, het hy steeds ‘n manier gehad om in baie mense se harte in te kruip,” het sy ma gesê.

Daniël was baie geheg aan sy sussie, Anika, en het altyd opgestaan vir sy vriende.

HTS Drostdy het op sy Facebook-blad gevra dat mense in gebed tree vir sy ouers, sy sussie, familie en vriende in hierdie verskriklike moeilike tyd.

“Daniël was ‘n trotse Drostdyer wat onder meer deel was van die 2024-revue en ook reeds sy oudisie vir die 2026-produksie afgelê het. Sy onderwysers beskryf hom as ‘n stil, aangename leerder wat sy kant gebring het,” het die skool gesê.

“Ons vra dat u die familie se privaatheid in hierdie hartseer tyd sal respekteer. Ons harte is stukkend en ons Donkie-maat se plek is leeg.”

Hy laat sy ouers Dennis en Lita en sy suster, Anika, agter. ‘n Roudiens word op Vrydag 19 Desember om 11:00 in die NGK Worcester-Noord gehou.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article