Verskeie gevangenes het gister (Woensdag 16 November) saam met studente van die Universiteit Stellenbosch hul sertifikate vir die voltooiing van ’n Ubuntu-kortkursus ontvang.
Luidens ’n verklaring van die US is die Ubuntu-leergemeenskap ’n vennootskap wat in 2018 tussen die US en die Departement van Korrektiewe Dienste gestig is. Die leergemeenskap is die eerste van sy soort in Suid-Afrika.
As deel van die leergemeenskap het ’n gelyke aantal US-studente en gevangenes ’n US- geakkrediteerde interdissiplinêre Ubuntu Learning-kortkursus voltooi.
Die kursus is deur US-akademici verbonde aan verskeie fakulteite in die Brandvlei-gevangenis in Worcester aangebied.
Vanjaar se kortkursus het ’n gender-fokus gehad en die tema was: “Ons is, omdat ek is. Verander myself en gemeenskappe.”
Ná 50 uur se klasse is die deelnemers se kennis getoets. Elkeen ontvang ’n bevoegdheidsertifikaat van die US. Die sertifikate is by ’n spesiale geleentheid aan die gevangenes oorhandig.
Hierdie is deel van verskeie pogings om diegene wat agter tralies is die geleentheid te gee om hulself met kennis te verryk.




