Aldo September van Bonnievale Blue Birds nael sterk met die bal, terwyl twee Rangers-verdedigers hom agternasit. Die grootuitdaagbeker-wedstryd tussen Rangers Robertson en Blue Birds is op die Van Zylstraat sportterrein gespeel, waar die besoekers die kragmeting in die laaste minute met ’n strafdoel beklink het. Die telling was 27-25. Foto: Norman Evertson


ROBERTSON – ’n Strafdoel in die laaste minute van die Grootuitdaagbekerwedstryd tussen Rangers Robertson en Bonnievale Blue Birds het aan die einde van die dag Rangers se doppie geklink.

Dié wedstryd is Saterdag (29 Junie) op die Van Zylstraat-sportterrein gespeel.

Terloops, dié maklike strafskop binne Rangers se kwartgebied, is twee keer deur Blue Birds waargeneem.

Blykbaar het ’n speler van Rangers vorentoe beweeg, of iets dergeliks gedoen, terwyl die skopper sy skop uitgevoer het.

Ná die eerste poging het die skeidsregter, Philip Oliphant, die skopper aangesê om weer aan te lê pale toe, waarna hy die bal tussen die mikke deurgejaag het.

Die eindfluitjie het daarna geblaas en Blue Birds, wat voor die suksesvolle strafdoel met slegs een punt agter was, het die wedstryd toe op dramatiese wyse met 27-25 gewen.

Maar terug na die begin.

Blue Birds het die wedstryd soos ’n warrelwind begin en Rangers moes omtrent bontstaan om die besoekers uit sy doelgebied te hou.

Bernito Oorstendorf, die binnesenter van Blue Birds, het egter ná aanhoudende druk agter Rangers se doellyn gaan kuier, waarna Elton Mfundisi (losskakel) seker gemaak het van die doelskop om sy span met 7-0 te laat voorloop.

’n Opstootjie tussen ’n paar spelers het daartoe gelei dat Oliphant (skeidsregter) twee spelers – een van elke span – met ’n geelkaart koelkas toe gestuur het.

Rangers het kort hierna sy eerste punte op die telbord gekry toe Siya Padiachy (agsteman) ’n beweging, waarin voor- en agterspelers die bal hanteer het, afgerond het. Dawie Conradie (losskakel) se doelskop was tussen die pale deur om die telling 7-7 te maak.

Namate die wedstryd gevorder het, het albei spanne om die beurt strafdoele aangeteken.

Eers het Conradie met ’n strafdoel vir Rangers geslaag, daarna Mfundisi vir Blue Birds en toe weer Conradie, om die telling op 13-10 in die tuisspan se guns te staan te bring.

Die gang van die wedstryd het in Rangers se rigting geswaai toe die telling tot 20-10 gegroei het ná ’n drie deur Tyler May (linkervleuel), wat deur Conradie verdoel is.

Blue Birds, wat die bal deurentyd goed versprei het, het egter minute later teruggeslaan ná ’n vlymskerp breekslag deur Mfundisi, wat agter die doelpale afgerond en kort daarna sy eie drie verdoel het.

Die spanne het gaan water drink met die rustydtelling 20-17 in die tuisspan se guns.

In die tweede helfte het Rangers sy voorsprong met ’n onverdoelde drie deur Navan Padiachy (regtervleuel) tot 25-17 vergroot.

Die besoekers het egter nooit tou opgegooi nie. Trouens, elke keer wat hulle in die tuisspan se kwartgebied gekom het, het hulle genadelose druk op hul teenstanders uitgeoefen.

Hul vasberadenheid en deursettingsvermoë is uiteindelik beloon toe Oorstendorf sy tweede drie, wat deur Mfundisi verdoel is, gaan druk en sy span se agterstand tot ’n enkele punt verklein het, met die telling wat 25-24 geword het.

Die laaste klompie minute was ’n senutergende gedoente vir albei spanne se ondersteuners, want terwyl Rangers verbete aan sy geringe voorsprong probeer klou het, het Blue Birds op sy beurt die tuisspan se verdediging tot die uiterste toe beproef.

Uiteindelik het Rangers ’n oortreding in sy kwartgebied, skuins voor sy eie doelpale, begaan, wat Morné Mastriet in staat gestel het om die maklike strafskop tussen die pale deur te stuur en die grootuitdaagbekerkragmeting op ’n spannende noot met 27-25 vir Blue Birds te beklink.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article