’n Plaaslike man het weens selfdood gesterf kort nadat ’n klag van verkragting teen hom aanhangig gemaak is.

Volgens AO Vathiswa Jacobs, ’n woordvoerder vir die Worcester-polisie, is die saak op 30 April by die Worcester-polisiekantoor ingedien.

“Volgens die 15-jarige klaer het die voorval op 23 April gebeur terwyl haar ma nie by die huis was nie.

“Volgens die klagstaat was die klaer in haar bed toe haar stiefpa langs haar in die bed geklim het,” het Jacobs verduidelik.

Volgens Jacobs het hy haar toe betas, haar onderklere uitgetrek en verder gegaan.

“Sy het glo gereeld saam met hulle in die bed geslaap omdat sy bang was. Sy beweer ook dat sy al vir meer as ’n jaar deur haar stiefpa verkrag word.

“Sy het haar ma al voorheen daarvan vertel, maar die ma het haar nie geglo nie en het niks daaromtrent gedoen nie.”

Ná verdere ondersoek, nadat die saak geopen is, is daar ook toe ’n saak teen die kind se ma aanhangig gemaak.

“Die saak teen die ma is deur die ondersoekbeampte in die dogter se saak ingedien.

“Dit is gedoen omdat die ma versuim het om dit onder die polisie se aandag te bring.

“Die saak teen haar is op 9 Mei gemaak.”

Op dieselfde dag het die polisie net ná 14:00 inligting ontvang dat ’n man homself opgehang het.

“Die oorledene se pa het die polisie gebel. Hy het hom in sy pa se motorhuis met ’n tou aan een van die balke opgehang.”

Dit is in hierdie stadium nog onbekend of die slagoffer se ma in die kinderhof of strafhof gaan verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article