Na afloop van die afgelope weke se sagtebalkrieket-wedstryde is die Stoep weer bo, terwyl Pen United en Tornados ook weer hul wedstryde wen.
Uitslae: 14 April:
Die Stoep t. New Orleans
In die eerste wedstryd van die dag het die Stoep die loot gewen en besluit om eerste te kolf. Dié span is almal uitgeboul vir 150 lopies. P.J. van Niekerk het die meeste lopies aangeteken met 67 en Matthys (17) was een van die manne wat met die kolf uitgestaan het. Die beste boulers vir New Orleans was G. Paulse 4/27 en L. Adams 2/22.
New Orleans het op sy beurt die een na die ander paaltjie verloor, maar bly veg. Almal is nietemin uitgebou vir 57 lopies. G. Paulse (20) was die beste kolwer, met I. Matthys (5/14) Die Stoep se beste bouler. Die Stoep het die wedstryd met 96 lopies gewen.
Tornados t. Superstars
In die tweede wedstryd van die dag het Tornados die loot gewen en besluit om eerste te kolf. T. Carolus (36) en D. Thomas (22) was Tornados se beste kolwers. B. Samuels (3/24) was Superstars se beste bouler.
Superstars, wat die eerste plek op die punteleer beklee het en ’n sege nodig gehad het op sy plek te behou, kon net nie die mas op die dag opkom nie. Die Tornado-wind het verwoesting veroorsaak en Superstars is almal vir 48 lopies uitgeboul. J. Mentza (21) was die enigste kolwer wat met die kolf probeer veg het. A. October (3/27) en F. Taylor (2/13) was Torries se beste boulers. Tornados het die wedstryd met 48 lopies gewen.
Uitslae: 21 April
Pen United t. MU Knights
In die eerste wedstryd van die dag het Pen United en MU Knights kragte gemeet. Die kaptein A. Stevens het die loot gewen en besluit Pen United gaan eerste kolf. Pen United het 125/6 in sy 20 boulbeurte bereik. R. Evertson (27), A. Stevens (25) en W. Abrahim (21) het met die kolf uitgestaan. Raldo (3/18) het vir MU Knights met die bal geskitter.
MU Knights het op sy beurt tevergeefs probeer en almal is vir 60 lopies uitgeboul. Conroy (21) en Jovan (16) is al manne wat weerstand kon bied. A. Stevens (5/13), R. Evertson (2/8) en M. Koert (2/10) het die paaltjies geneem en Pen United het wedstryd met 66 lopies gewen.
Tornados t. Indians
In die hoofwedstryd van die dag het Tornados die loot gewen en besluit om eerste te kolf. Die span het wankelrig begin en 111/7 bereik. D. Thomas (51) en F. Taylor (32) het met die kolf uitgestaan, met T. September (2/6) en F. Johan (1/6) wat goed geboul het.
Indians, wat op sy beurt die oorwinning broodnodig gehad het, kon net nie aan die gang kom nie en ’n Tornado-wind van voor gekry. Indians is almal kleedkamer toe gestuur vir net 30 lopies. T. Carolus (3/2), R. Fielies (3/14) en A. October (2/2) het Indians se paaltjies laat kantel.
Tornados het die wedstryd met 82 lopies gewen.



