Die Young Stars-vlakkiekrieketklub het Sondag (26 Februarie) ’n goeie oorwinning teen die Hartwig Lions behaal en die wedstryd met 123/2 gewen.

Young Stars het die loot gewen en besluit om eerste te kolf. Dié besluit het die gewenste uitwerking gehad en die lopies het gevloei.

YS het ’n 39-lopie-vennootskap om die eerste paaltjie aangeteken met Entrico Flando wat 24 van die lopies gekry het voordat Cobin Basson hom uitgevang het. Wesley Matthys het ingekom en nie op hom laat wag nie. Hy het ’n onoorwonne 61 lopies gemoker vir Young Stars se allemintige 123/2.

Die Lions het ’n groot taak gehad om 124 vir ’n oorwinning op te tower.

Lions het wankelrig begin met Wilmar Martin wat met die eerste bal vir ’n nulletjie deur Heymyou Muggels uitgeboul is. Muggels het in dieselfde boulbeurt ook van Cobin Basson (0) ontslae geraak, wat Lions erg teen die planke gelaat het.

Malcolm Jagers en Sharief Jacobs het darem vasgeskop en met reëlmaat lopies aangeteken, wat Lions ’n buitekans op ’n oorwinning gegee het. Malcolm het 33 aangeteken terwyl Sharief 30 van net nege balle geslaan het. Hulle is goed bygestaan deur Nathan Baartman (15; wat twee sesse en ’n vier insluit).

Met ses boulbeurte oor en die Lions wat nog 41 gekort het, is Nathan op dramatiese wyse uitgehardloop – weer van Muggels se boulwerk. Muggels het met sy vyf paaltjies vir slegs nege lopies van vier boulbeurte die grondslag vir ’n Young Stars A-oorwinning gelê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article