Jethro Sheldon en Mignon Filander, ’n paartjie van Worcester, het op Saterdag 21 Desember by die DHL-stadion in Kaapstad tydens die Stormers teen Leeus-wedstryd verloof geraak.
“Dit was tydens rustyd toe hy in my oor gefluister het dat ek my tweede Kersgeskenk gaan kry, en dit is toe hy die verloofring uitgehaal het,” het Filander (25) van Johnson Park gesê.
Filander was heeltemal onkant gevang deur die verlowing. Sheldon en sy familie het vir haar gesê dat hulle die wedstryd gaan kyk om sy suster se verjaarsdag te vier.
“Wanneer ek nou terugkyk, het almal hul rolle perfek gespeel,” het die skoonheidskundige gesê.
Die enigste ding wat vir Filander uit plek was, is dat Sheldon nie kon eet nie.
“Albei van ons is lief vir kos; dit is een van ons love languages, en hy het daardie dag niks geëet nie,” het sy vertel.
Sheldon van Victoria Park in Worcester is ’n projekbestuurder vir die Breedevallei-munisipaliteit. Hy het die verlowing al in September beplan. Met die hulp van sy suster, wat hy as die familiebestuurder beskou, was die oorspronklike idee om Filander se hand tydens ‘n Sondagmiddagete te vra.
“Maar ek moet my toekomstige swaer al die krediet gee, hy het voorgestel om dit by die rugby-wedstryd te doen,” het Sheldon gesê.
Albei is groot Stormers- en Springbokondersteuners, en dit is hulle liefde vir sport wat hulle bymekaar gebring het.
Die paartjie het mekaar in 2019 ontmoet toe hulle deur ’n gemeenskaplike vriend aan mekaar voorgestel is. Toe hulle vir die eerste keer hande vashou, was daar dadelik ’n vonk tussen hulle.
“Vir my kon dit nie toevallig wees nie. Ek moes hierdie man beter leer ken,” het Filander gesê.
Sy het toe op sosiale media navorsing oor Sheldon gedoen en uitgevind dat hulle alreeds mekaar op X (voorheen Twitter) volg, wat vir Filander nog ’n teken was dat hy haar sielsgenoot is.
“Hy is ’n groot Liverpool-aanhanger, en dit is oral op sy bladsy, so ek het in sy DMs ingeskuif en gevra hoekom hy so ’n slegte span volg, want ek is ’n groot Manchester United-aanhanger,” het sy vertel.
Filander het die eerste skuif gemaak, maar sy glo dit is net reg dat Sheldon op sy knieë gegaan het.
Die paartjie, wat al vyf jaar uitgaan, het gesê die kersie op die koek van die dag was nie net dat hul geliefde Stormers die wedstryd teen die Leeus gewen het nie, maar ook dat Sheldon ’n bal tydens die wedstryd gevang het.
Hulle was onkant betrap deur die reaksie van die publiek op hul verlowing.
“Dit was net golwe van liefde,” het Filander gesê.
Hulle het nog geen trouplanne nie en sien uit daarna om vir ’n ruk verloof te wees.
“Ons wil die liefde laat borrel en geniet waar ons nou is,” het Sheldon gesê. “Al wat ons weet is dat ons ’n somertroue wil hê,” het Filander bygevoeg.






