WORCESTER – Verskeie lede vanuit die gemeenskap is vasberade om weer ’n plaaslike sportraad op die been te bring.

Charles Beukes het destyds op die sportraad in die dorp gedien en is ’n voorstander vir ’n nuwe sportraad.

“Volgens die strukture in die sportwêreld is daar veronderstel om ’n sportraad op munisipale vlak te wees. Ons het nie een nie. Ons is al vir langer as tien jaar sonder ’n sportforum en die inisiatief kom gewoonlik van die munisipaliteit af,” verduidelik Beukes.

Hy meen ’n sportraad is noodsaaklik vir die welstand en onderhoud van alle sportkodes.

“Niemand praat tans amptelik namens die sportklubs nie. Ek weet nie wat die rede is dat ons nie ’n sportraad het nie. Dit is frustrerend.”

Standard & Gazette het ’n navraag aan die Breedevallei-munisipaliteit gestuur en gevra hoekom die streek nie tans ’n sportraad het nie. Die navraag is egter nog nie beantwoord nie.

Volgens Beukes is dit belangrik dat een stem namens al die sportklubs praat “sodat dinge wat kwel, uit een mond die hoof gebied kan word, naamlik die voorsiening en instandhouding van sportgeriewe. Dit is immers die verantwoordelikheid van die munisipaliteit. Byvoorbeeld, ons dorp het nie eens ’n fietsrybaan nie. Esselenpark-stadion kort sitplekke, om net ’n paar probleme te noem.”

Hy sê verder dit is noodsaaklik dat ’n sportraad so gou as moontlik op die been gebring word.

“Dis ’n dringende noodsaaklikheid dat alle sportklubs uit een mond en met een stem kan praat. Ons moet toesien dat die geld wat beskikbaar is, reg aangewend word. Almal se sportkodes is belangrik. Sport is belangrik om die jeug teen misdaad en geweld en verkeerde keuses te beskerm. Ons kinders begin al klaar met ’n agterstand.”

Standard & Gazette het die munisipaliteit ook gevra of hy enige planne het om weer ’n sportraad te begin.

“Die BVM is tans besig om met die verskillende sportkodes te praat om die stigting van ’n sportforum te bespreek. Ons het reeds ooreenkomste met al die klubs vir die gebruik van ons geriewe gesluit en die forum sal ons baie help met goeie bestuur van daardie geriewe. Ons beplan om die sportforum teen 30 Junie te stig,” het Hannelie Botha, ’n woordvoerder van die munisipaliteit, gesê.

Sy verduidelik ook hoe die munisipaliteit voortaan te werk sal gaan.

“Die munisipaliteit sal alle sportkodes na die stigting van die sportraad nooi om te verseker dat almal in die raad verteenwoordig is. Gereelde vergaderings sal dan gehou word om die probleme wat sportkodes ervaar, te bespreek, en ons sal dan probeer om dit so gou as moontlik die hoof te bied. Die raad sal ’n koördinerende liggaam tussen die munisipaliteit, sportkodes en die provinsiale departement wees. Die sportraad sal ook die verantwoordelikheid hê om te verseker dat die munisipaliteit alle sportkodes regverdig en gelyk behandel.”

Beukes het ook onlangs ’n uitnodiging aan die verskeie sportklubs se voorsitters gestuur om hulle na ’n vergadering op Donderdag 8 Februarie om 19:00 te nooi.

“U word uitgenooi om een verteenwoordiger van u klub af te vaardig na ’n vergadering waar die stand van sport, en in besonder sportgeriewe, in die Breedevallei onder die vergrootglas sal kom. Die vergadering is gereël deur ’n aantal besorgde vrywillige sportbetrokkenes met die doel om uiteindelik ’n verteenwoordigende sportraad in die Breedevallei tot stand te bring,” lui die uitnodiging.

Volgens die uitnodig sal die sakelys die volgende insluit:

1. Die totstandkoming en doel van die tydelike sport-aksiegroep;

2. Wetlike vereiste van ’n sportraad vir elke munisipaliteit;

3. Konstitusionele mandaat van munisipaliteite ten opsigte van voorsiening van sport fasiliteite;

4. Wat is ons klubs en dorpe se behoeftes ten opsigte van die ontwikkeling van sport en sportpresteerders; en

5. Die pad vir die Breedevallei vorentoe.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article