“ ’n Welverdiende erkenning” en “diep gepaste huldeblyk”.

Só sê ’n paar sportreuse oor Thomas van Noie, ’n legendariese sportman van Worcester, die afgelope week aan Standard Breedrivier Gazette. Hy was ’n afrigter en mentor.

Hierdie lofprysing vir wyle Van Noie kom nadat die Breedevallei-munisipaliteit (BVM) kennis geneem het van ’n voorstel om die paviljoen by die Esselenpark-stadion in Worcester na Van Noie te vernoem.

Hierdie voorstel is op 22 Oktober op ’n raadsvergadering voorgelê.

Luidens ’n Facebook-inskrywing sê die BVM: “Benewens die feit dat hy [Van Noie] ’n gerekende opvoeder van beroep was, was hy bekend in Worcester vir sy aktivisme in verskeie sportsoorte, insluitend rugby, fietsry en gimnastiek.

“In sy uitgebreide ervaring in die sportbroederskap het hy talle atlete gementor, wat nasionale en provinsiale kampioene geword het. Sommige het selfs as afrigtingspersoneel vir die Springbokke gedien.

“Om sy bydrae tot die sportbroederskap te eer, beoog BVM om die pawiljoen by Esselenpark-stadion na hom te vernoem.”

Deon Davids, die Springbokke se hulpafrigter, sê vanuit Skotland aan Standard Breederivier Gazette om die pawiljoen by die Esselenpark-stadion na Van Noie te vernoem, is ’n “welverdiende erkenning”.

“Ek kan nie aan ’n beter manier dink om hom te vereer vir die uitstekende diens wat hy aan Worcester en die breër gemeenskap gelewer het nie.”

Davids sê in die jare tagtig, toe hy nog op hoërskool in Bredasdorp was, was Van Noie die Esselenpark Senior Sekondêre Skool se rugby-afrigter.

“Wanneer ons teen Esselenpark gespeel het, was ek altyd beïndruk deur die spelers se fenomenale spel.”

Volgens hom was hy in 1989 ’n onderwysstudent by Esselenpark Senior Sekondêr. “Liggaamlike opvoedkunde was een van my hoofvakke.

“Ek het gereeld by sy (Van Noie) se [liggaamlike opvoedkunde]-klasse ingesit. Hy was ’n wonderlike inspirasie.”

Davids sê toe hy in 1990 as dosent by die destydse Söhnge Opleidingskollege begin werk het, het Van Noie hom gehelp blyplek soek.

Volgens hom het Van Noie hom genader om vir Young Hamiltons rugby te speel.

“Ek het ’n baie genotvolle jaar by Hamiltons onder sy leiding beleef. Ek het baie geleer, goeie vriende met senior Boland-spelers soos Thurston Joseph, John Triskey, Joslin Ontong en nog vele ander gemaak voordat ’n nekbesering my vir langer as ’n jaar uit die spel gedwing het.

“Ek het deur sy [Van Noie se] leiding by Young Hamiltons die Worcester- Unie-span gehaal en is na die Boland Saru-groep se oefening in 1990 genooi.”

Chauncey Johnson, biokinetikus en tans voltydse paalspring-afrigter vir Bo Kanda Lita Baehre in Duitsland, het die volgende oor Van Noie te sê:

“Oom Tom was nie net ’n onderwyser en afrigter van formaat nie, maar ’n visioenêr wat die lewe van talle jong atlete, insluitend my eie, gevorm het.

“Oom Tom het ons die belangrikheid van deursettingsvermoë en passie geleer en ons gedruk om te bereik wat ons nie eens geweet het moontlik is nie.”

Johnson sê die benoeming van die paviljoen ter ere van Van Noie is ’n diep gepaste huldeblyk, wat verseker dat sy nalatenskap en impak voortleef vir toekomstige geslagte sportmanne en -vroue wat in sy voetspore sal volg.”

Die munisipaliteit nooi die publiek om voorleggings te doen oor sy voorneme om Van Noie se bydrae tot sport te eer.

Voorleggings kan vir ondersteuning of verwerping van die voorstel wees.

Dit moet aan T. Abner gerig word by tabner2@bvm.gov.za.

Die sluitingsdatum vir voorleggings is 30 November 2024.. Van Noie is in Februarie verlede jaar oorlede.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article