Lesley Richards, een van Worcester se veelsydigste sportmanne.


Een van Worcester se veelsydigste sportmanne en allemansvriende, is verlede Vrydag 24 Mei na ‘n kort siekbed oorlede.

Lesley (Les) Richards het die afgelope amper drie maande met asma gesukkel en longkanker is ’n rukkie gelede by hom gediagnoseer, maar hy was tot so twee weke gelede nog redelik aktief voordat hy op 12 Mei in die plaaslike hospitaal opgeneem is.

Les was deel van ’n familie van vier broers asook hul pa, wat almal die een of ander tyd die Villagers-rugbytrui oor die kop getrek het. Hy was veral vir sy vele bydraes en prestasies op die sportveld bekend. Hy was nie net ’n veelsydige agterspeler van Worcester Villagers in sy speeldae nie, maar kon maklik op heelagter, senter of losskakel diens doen en het selfs ook later in ’n administrateurspos diens gedoen.

Les was ook ’n baie goeie krieketspeler vir dieselfde klub se krieketspan en veral bekend vir sy harde slaanwerk van ’n krieketbal voordat hy hom ná eenwording ook by Worcester United Krieketklub aangesluit het, waar hy ook sy kennis van die spel met die jonger spelers gedeel het.

Dit was natuurlik nadat hy eers as tiener sy vaardighede net soos vele ander krieketspelers by gemeenskapskrieket (Vlakkie-krieket) geslyp het. Hiermee saam was hy ook baie vaardig met ’n gholfstok in die hand en hy was lid van Riverside Gholfklub. Hy was ook ’n bedrewe baldanser terwyl hy ook ewe handig was op die snoekertafel wanneer hy ’n kansie gekry het om te ontspan – alles tekenend van sy uitsonderlike en Godgegewe talente.

Les, wat ná sy skoolopleiding aan die Hoërskool Breërivier etlike jare by Rainbow Chickens in die instandhoudingsafdeling gewerk het, was ook vir vier termyne as verkose raadslid ten nouste betrokke by gemeenskapsaktiwiteite in Worcester en het selfs vir ’n deel van een van sy termyne in die raad as Speaker waargeneem terwyl sy party in beheer van die raad was.

Hy het egter nie net op sportgebied uitgeblink nie, maar ook op geestelike gebied sy kant deeglik gebring. Hy het vir meer as een termyn as kerkraadslid op die kerkraad van die Calvyns Protestante kerk gedien en het nog onlangs nog ’n termyn as Kerkraadslid voltooi.

Hy was 34 jaar getroud met Felicity, ’n nooi Van Rooyen van Worcester, en vier kinders – twee seuns en twee dogters – is uit die huwelik gebore. Hy was ook die trotse oupa van vyf kleinkinders asook een agterkleinkind. Naas sy gade, kinders, kleinkinders en agter-kleinkind, laat hy ook drie broers en drie susters agter.

’n Verassingsdiens vind Saterdag (1 Junie) om 10:00 in die Calvyns Protestante kerk in Leopoldtlaan plaas. Die diens by sy huis by Spreeustraat 5, Avianpark, is om 09:00.

’n Roudiens ter nagedagtenis van die ontslapene word vanaand (Donderdag) by die Calvynse kerk gehou.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article