Lewer ongeveer 48 koekies, afhangende van die grootte van die koekiedrukker.

Die resep vir die deeg is gedeeltelik gebaseer op ’n resep van Nigella Lawson.

Jy het nodig vir die speserykoekies:

300 g koekmeelblom, gesif

5 ml bakpoeier

5 ml fyn kaneel

’n knippie fyn naeltjies

10 ml varsgemaalde swartpeper

100 g gesoute botter, teen kamertemperatuur

100 g donkerbruin suiker

60 ml heuning

2 groot eiers, geklop

Jy het nodig vir die versiersel:

harde versiersel

opsioneel: silwerkleurige balletjies en/of hardeversierselvormpies soos blommetjies en hulsboomblaartjies

Só maak ’n mens:

1. Voorverhit die oond tot 170° C. Voer drie bakplate met bakpapier uit en spuit met kleefwerende sproei.

2. Meng die meel, bakpoeier, kaneel, naeltjies en swartpeper in ’n groot bak saam. Vryf die botter met jou vingerpunte in totdat die mengsel soos fyn broodkrummels lyk. Meng die suiker by.

3. Meng die heuning en eier saam. Voeg soveel daarvan as nodig by die meelmengsel om ’n sagte deeg te vorm.

4. Rol die deeg op ’n meelbestrooide oppervlak uit tot sowat 5 mm dik. Gebruik ’n Kersklok- en stervormige koekiedrukker om koekies mee uit te druk en plaas die koekies op die bakplate. Gebruik ’n strooitjie of die agterkant van ’n sosatiestokkie om ’n gaatjie aan die bokant van elke koekie te druk vir die lint.

5. Bak die koekies vir ongeveer 15 minute totdat die onderkant van die koekies nie meer degerig is nie. Laat afkoel op ’n draadrakkie.

6. Versier met harde versiersel en, indien verkies, silwerkleurige balletjies en/of hardeversierselvormpies.

7. Laat die versiersel heeltemal hard word voordat jy linte deur die gaatjies ryg.

*Bêre in ’n lugdigte houer met velle waspapier tussen die koekies.

Resep: Anneke Potgieter (Bron: Netwerk24)

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article