Die dae van ver ompaaie ry as jy ná werk op soek is na brood, melk en noodsaaklikhede vir die huis, is verby. Die splinternuwe SPAR Q-Square bied alles wat jy nodig het, slegs ’n straatblok of twee van jou kantoor af: duisende produkte vir jou kruideniersmandjie plus hoëgehalte vars voorbereide kos uit die kombuis, deli, bakkery en slaghuis.

Die pannekoek en groot snye pizza – alles vars gebak terwyl jy wag – het sedert die opening op 24 November reeds groot treffers geword. So ook die Chikka Chicken-afdeling se diepgebraaide hoenderstukke en ander hoenderhappies, die warm ontbytkos en ’n wye reeks ete-opsies vir verskillende smake.

Nog ’n groot trekpleister is die slaghuis, waar ’n bekwame blokman en sy assistent sorg vir vars voorbereide vleisprodukte wat mens sommer lus maak om vuur op te steek.

“Ons het ’n uitstekende eerste week gehad en sê hartlik dankie aan elke Worcesteriet wat ons so goed ontvang het,” sê Johan van der Watt, bestuurder van SPAR Q-Square. “Dié naweek sit ons die afskop-vieringe voort met heelwat uitstekende aanbiedinge wat vir klante groot besparings kan beteken.”

Dit is vir Johan en die eienaars, Piet en Louise Niemand, ’n opwindende stap om van hul huidige geriefswinkel na die groter formaat te beweeg. Hulle beloof egter dieselfde passie vir SPAR Q-Square as wat hulle in die gewilde Breedevallei KWIKSPAR in Meiringspark belê het.

Hul onwrikbare verbintenis tot gehalte en diens het Breedevallei KWIKSPAR gevestig as een van Worcester se gunsteling-geriefswinkels en dit ook so pas die prys as SPAR Brands Retailer of the Year in die Wes-Kaap en Namibië besorg.

“Ons word gedryf deur ’n sterk begeerte om uitsonderlik te wees,” sê Johan. “Ons belofte aan ons klante is dat ons áltyd sal bly poog om vir hulle uitsonderlike gehalte en uitsonderlike diens te gee.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article