Onoorwonne Worcester Perseverance se visier is nou om as die wenners in die Streekuitdaag-liga te eindig.

Credit: SYSTEM

Die afgelope Saterdag het Worcester Perseverance vir Orchard-rugbyklub van De Doorns afgeransel om sy onoorwonne status in die Streekuitdaag-liga van die Breërivierafdeling van die Boland-liga te behou.

Die eindtelling was 32-19 in die guns van Perseverance, wat hierdie komende Saterdag ’n loslootjie geniet.

Vir Perseverance het Riyaaz Price, Miley Karriem, McHenry Malgas en Brendon Doring drieë gedruk.

Aqueel Adendorff was in die kol met twee doelskoppe.

Die kaptein Riyaaz Price het van voor gelei en is goed bygestaan deur die twee Ryneveldts Ruwaan en Winston. Monroe Christians en Reagan Brown het behoorlik gewoel in die vaste los.

Wanneer hy by die agterlyn aansluiting gevind het, het McHenry Malgas behoorlik gekook.

Die balverspreiding van die senterpaar Jacquin Jacobs en Brendon Doring het weer eens die oog gevang en hulle was rotsvas op die verdediging.

Perseverance speel sy laaste ligawedstryd teen Overhex in ’n wegwedstryd op 17 September, waarna die klub hom gereed gaan kry vir die Boland-streek se promosie/relegasie-wedstryde. Die wenners van dié wedstryde ding mee om plek in die Grootuitdaag-kompetisie, asook die top-14-kompetisie om die Streekuitdaag-kampioen van die Boland-streek te bepaal.

Perseverance is in 2018 as die Streekuitdaag-kampioen gekroon.

Persies se B-span het ook sy wedstryd gewen en skitterende hardlooprugby opgelewer en sewe pragtige drieë gedruk.

Die eindtelling was 45-5 in die guns van Worcester Perseverance.


V Die klub wil baie dankie sê vir sy getroue ondersteuners vir hul ondersteuning tydens tuiswedstryde, maar wil ook benadruk dat die beste nog voorlê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article