Dit gaan ’n moeilike jaar vir gewone verbruikers wees as die rentekoers, belasting, kragtariewe en kos- en ander pryse alles styg.

Brandstofprysstygings, veral, gaan aan die orde van die dag wees in 2017.

Die Automobiel-Assosiasie (AA) sê verbruikers sal hul rande vanjaar heelwat verder moet rek en hulle kan dalk sommer begin deur die brandstof in hul motor se tenk langer te laat hou. Deur sinvol te bestuur sal jy dalk vind dat jy verder kan ry en kontant bespaar wat jy vir ander benodigdhede kan gebruik.
1. Bande

Bande wat nie styf genoeg gepomp is nie verhoog die weerstand tussen jou voertuig en die pad. Dít beteken jou voertuig moet harder werk om die bykomende weerstand te oorkom en dus meer brandstof gebruik.

Navorsing toon dat bande wat reg gepomp is jou nagenoeg 3,3% verder met dieselfde brandstof laat ry. Wielsporing en wielbalansering wat nie reg is nie kan ook jou enjin ook harder laat werk.
2. Stop-ry-bestuur

Elke keer as jy versnel werk die enjin harder en elke keer as jy rem trap, gaan dié energie verlore. Stop-ry-bestuur is daarom swaar op die enjin – én jou remme – en verbruik meer brandstof. Beplan jou roete en versnel so min as moontlik om jou brandstofverbruik te verbeter. As jy enigsins kan, moenie in spitsverkeer bestuur nie.
3. Luier

Jy verbruik brandstof as jy luier. Skakel eerder die enjin af as jy langer as 30 sekondes moet stilstaan.
4. Windweerstand

Enige toevoegings tot jou motor, soos dakbokse of fietsrakke, moet afgehaal word wanneer jy dit nie gebruik nie. Dit verander die lugvloei om jou voertuig en laat die weerstand toeneem.

Oop vensters en sondakke vermeerder ook windweerstand wat jou enjin harder laat werk en dus brandstofverbruik verhoog.
5. Lugreëling

Jy wil dit nie hoor nie, maar die gebruik van lugreëling verhoog die brandstofverbruik. Lugreëling in motors het ’n kompressorpomp wat deur die enjin aangedryf word. Die kompressor trek dus krag van jou enjin. Gebruik lugreëling so min as moontlik.
6. Versien jou voertuig

’n Voertuig wat nie goed in stand gehou word nie werk nie optimaal nie en kan dalk meer brandstof verbruik as wat die vervaardiger reken.
7. Beplan

Beplan jou dag en jou roetes. Stop byvoorbeeld op pad huis toe vir brood en melk of hondekos eerder as om later wéér te ry. Kombineer ritte na die kinders se skole eerder as om elkeen afsonderlik vir elke aktiwiteit op te laai.
8. Stig ’n saamryklub

Jy stel jou onafhanklikheid hoog op prys, maar dis dalk tyd om hulpbronne saam te gooi. Dit is nie onmoontlik om minstens een mens te vind wat naby jou woon en min of meer dieselfde ure werk nie.
9. Gebruik openbare vervoer

Hoewel jy dalk nie lugreëling geniet nie en dalk ’n sitplek moet deel, kan jy honderde of selfs duisende rand bespaar met openbare vervoer – selfs al doen jy dit net ’n paar keer per week.
10. Ry stadiger

Hoe vinniger jy ry hoe meer brandstof verbruik jy. Verander na die linkerbaan en laat ander maar by jou verby jaag. Jy sal ook daar kom.

– Netwerk24

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article