’n Voorbeeld van hoe en waar die sonpanele geïnstalleer gaan word. Foto: Verskaf

Credit: SYSTEM

Die ATKV Goudini Spa is besig om sonpanele aan te bring.

Die spa het die nuus op sy Facebook-blad bekend gemaak.

“Opwindende nuus. Ons is verheug om ons nuutste projek aan te kondig: ‘Groen’ met sonkrag. Ons oord omhels volhoubaarheid met ons nuwe sonkragprojek. Deur elektrisiteit vir die hele oord op te wek, neem ons ’n groot sprong na ’n groener toekoms. Maak gereed om te koester in die gloed van skoon energie en sluit by ons aan op hierdie ekovriendelike reis,” lui die inskrywing.

Therien Taljaard, ’n woordvoerder vir ATKV-oorde, sê die besluit is al ’n geruime tyd gelede geneem.

“Dis al ’n geruime tyd dat bestuur besluit het Goudini moet sonpanele kry en die beplanning is om die makro-oorde van die ATKV eerste toe te rus, soos Buffelspoort (reeds gedoen), Goudini Spa wat nou daarmee besig is, en dan Klein-Kariba. Hartenbos, wat nie ’n geslote oord is nie, sal anders hanteer moet word omdat daar nie genoeg plek is om ’n sonplaas te vestig nie. Die res van die oorde sal oor die volgende drie tot vyf jaar gedoen word,” verduidelik sy.

Sy voeg by dat hierdie ’n ekonomiese besluit was wat wesenlike voordele inhou.

“Dit is ’n ekonomiese besluit om waarde toe te voeg tot eiendomme. By al die oorde is kragopwekkers om beurtkrag te verlig en met huidige brandstofpryse en wat in toekoms verwag word, raak dit baie duur om die ligte aan te hou. In die reisbedryf hou dit wesenlike voordele in vir vakansiegangers as krag deurlopend voorsien word en het dit ’n positiewe impak op besetting.”

Volgens Taljaard sal 2 415 sonpanele voor die einde Junie op ATKV-Goudini Spa se perseel aangebring word. “Die sonpanele sal 1,4 MWatt se elektrisiteit opwek.”

Die projek, wat ’n beraamde R43 miljoen gaan kos, het reeds by Goudini begin.

Sonkragstasie-uitleg

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article