Twee taxi’s op die hoek van Albatros- en Glasogiestraat in Avianpark versper die pad waar hulle mense op- en aflaai. Die foto is 18 Februarie geneem.Foto’s: Dominique Jeftha

Credit: SYSTEM

Taxibestuurders wat in Avian­park maak soos hulle wil gaan hopelik op hul neuse kyk. Verskerpte wetstoepassing is van Dinsdag (1 Maart) af hier in werking.

Dit blyk dat sommige inwoners in Avianpark nou genoeg gehad het van taxi’s wat verkeersreëls ignoreer.

Dit nadat verskeie inwoners Standard gekontak het oor die taxi’s wat die verkeer soggens versper en ophou.

Twee van dié inwoners – wat verkies om anoniem te bly – sê die probleem kom reeds oor jare aan en die verkeersdepartement doen niks aan die saak nie.

Volgens een van die inwoners moet sy deesdae baie vroeër soggens ry as wat sy eintlik moet omdat die taxi’s elke oggend die verkeer ophou. Sy noem dat hulle enige straat versper wat hulle wil en dan net hul gevaar­ligte aansit. Volgens haar gee die taxi­bestuurders nie om om voor ander in te ry en net te stop nie. Sy sê dit ge­beur keer op keer en wanneer ver­keers­beamptes verby die taxi’s ry, toet hulle net. “Ek is moeg dat daar twee stelle reëls is, die taxi’s kan maak wat hulle wil, maar ander motoriste moet die padreëls gehoorsaam. Hulle behoort hulle te skaam,” sê sy.

Nog ’n inwoner noem dat hy vir ’n geruime tyd die situasie rakende die taxi’s in die dorp dophou. Volgens hom moet die verkeersdepartement die skuld vir die huidige stand van sake kry.

“Hulle het gesien die probleem ruk handuit, maar doen niks daaraan nie. Dit is waarom taxibestuurders nie gehoor gee aan die reëls nie. Baie van hulle ry sonder rybewyse, maar hulle word nie afgetrek nie, want die verkeersbeamptes verkies om boetes vir ons gewone motoriste uit te skryf.”

Hy voeg by dat Durbanstraat “aan die taxi’s behoort omdat hulle kan maak wat hulle wil”. Volgens hom spoel dit nou oor na die res van die woonbuurte.

Standard het ’n navraag aan die Breedevallei-munisipaliteit (BVM) gestuur oor die probleem wat inwoners met die taxibestuurders het.

Volgens die verkeershoof, Danvin Maart, is ’n vergadering verlede Vrydag (24 Februarie) tussen die onderburgemeester en die direkteur asook verkeer belê. Volgens Maart het parkering, die stilhou van taxi’s en die manier van bestuur in Avianpark deel van die vergadering uitgemaak.

“Ons het onderneem om verskerpte wetstoepassing te doen – veral ten opsigte van taxi’s.” Dié verskerpte optrede het Dinsdag (1 Maart) begin.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article