Dr. Julian Kritzinger Foto: Facebook/Breedevallei Munisipaliteit

Die Breedevallei-munisipaliteit (BVM) het onlangs ‘n groot tree vorentoe geneem om beleggers na die streek te lok.

Die munisipale raad het die nuwe BVM-beleggingsaansporingsbeleid, in Engels bekend as ‘n “investment incentive policy” en ‘n konsep- BVM-beleggingsprofiel aanvaar.

Dit maak die BVM een van min munisipaliteite in die land wat so ‘n beleid het, met metropole soos Kaapstad en Durban en groot dorpe soos George en Welkom wat dit reeds gebruik, het die raadslid Julian Kritzinger in ‘n verklaring verduidelik.

Dit is ‘n hulpmiddel om ondernemings na die BVM se kommersiële en nywerheidsgebiede te lok. Die munisipaliteit se vinnige reaksie en kostedoeltreffende dienste is ‘n belang-rike lokmiddel vir ondernemings, het hy gesê, maar beleggingspersepsie vervul ook ‘n groot rol.

Die beleid sal die Breedevallei-munisipaliteit help om voornemende beleggers te lok deur hulle voordele te gee wat hulle nie voorheen sou gehad het nie, terwyl hul beleggings werk vir plaaslike inwoners skep.

Die Plaaslike Ekonomiese Ontwikkelingsafdeling van die munisipaliteit het sy huiswerk deeglik gaan doen en ander munisipaliteite se aansporingsmaatreëls vir beleggers gaan bestudeer.

‘n Eie, unieke beleid is saamgestel en in-diepte ontledings van elke dorp in die munisipaliteit is gedoen om hul kapasiteit vas te stel. Die hulp van kenners van plaaslike ontwikkeling by die Suid-Afrikaanse Plaaslikeregeringsvereniging (Salga) is bekom om die beleid te verfyn.

Die fokusgebiede van die beleid is die unieke aard van die Breedevallei-beleggingsprofiel, die gebied se mededingende voordele, soos beskikbare grond en water, ‘n gebied-spesifieke benadering wat voorsiening vir De Doorns, Rawsonville, Touwsrivier en Worcester se unieke behoeftes maak en die finansiële sowel as nie-finansiële voordele om hier te belê. Daar is duidelike kriteria in telkaart-formaat oor hoe om vir die voordele te kwalifiseer. Daar word ook gefokus op die administratiewe proses wat deur ‘n bestuurskomitee gevolg moet word, met ingeboude wigte en teenwigte wat regverdig en verantwoordbaar is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article