Die munisipaliteit het onlangs sy konsepbegroting vir die nuwe boekjaar bekend gemaak.
Volgens Daniël Lubbe, Langeberg-munisipaliteit se munisipale bestuurder het hulle deeglike ontleding gedoen voordat die voorgestelde begroting ter tafel gelê is.
“Dit het die assessering van uitgawes met betrekking tot infrastruktuurinstandhouding, bedryf en toekomstige opgraderings ingesluit. Die doelwit was om die ware koste van diensverskaffing te bepaal en te verseker dat tariefaanpassings hierdie koste akkuraat weerspieël. ’n Mens sou ook nie verwag dat die verhoging van 8% vir sloopafval hoër is as dié vir water en sanitasie nie en dit is omdat die Langeberg-munisipaliteit se ruimte by sy stortingsterrein opraak. Hy sal dus gedwing word om afval by die streekstortingsterrein in Worcester af te lewer.
“Die elektrisiteitstariefverhoging is 12,72%; dit is dieselfde persentasieverhoging wat deur die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika vir Eskom goedgekeur is. Die Langeberg-munisipaliteit koop elektrisiteit by Eskom en verkoop dit aan verbruikers, dus het ’n verhoging in die Eskom-tariewe ’n direkte impak op die koste vir die munisipaliteit. Alle ander persentasieverhogings vir eiendomsbelasting en -tariewe is beperk tot 6%,” het Lubbe verduidelik.
Die voorgestelde verhogings vir dienste is soos volg:
Eiendomsbelasting – 6%
Water – 6%
Sanitasie – 6%
Vullisverwydering – 8%
Elektrisiteit – 12, 72%
Diverse tariewe – 4% tot 6%.
Antoinette Steyn, uitvoerende burgemeester van die Breedevallei-munisipaliteit, het die volgende in haar verslag oor die voorgestelde begroting gesê:
“Die Breedevallei-munisipaliteit bly daartoe verbind om gehaltedienste aan alle huishoudings te lewer. Ons as munisipaliteit erken die feit dat huishoudings talle probleme in die gesig staar, wat wissel van maatskaplike tot ekonomiese uitdagings. Ons beskou ons rol as ’n integrale rol in die oplos van hierdie uitdagings om lewensgehalte te verbeter en sal dus voortgaan om ons rol te vervul deur die skep van ’n bevorderlike omgewing vir werkskepping en maatskaplike ontwikkeling in ons gemeenskap.
“Nie alle planne sal binne die tydraamwerke afgehandel word nie weens verskeie onvoorsiene uitdagings, maar die Breedevallei-munisipaliteit is daartoe verbind om te verseker dat alle projekte wat begin is, voltooi word.”
Voorgestelde verhogings in die Breedevallei-munisipaliteit sluit in:
Elektrisiteit – 11,02% (onderhewig aan finale goedkeuring deur Nersa)
Water – 5,78%
Riool – 5,78%
Vullisverwydering – 5,78%
Eiendomsbelasting – 5,78%
“Hierdie begroting dien die doel om toekomstige diensleweringsdoelwitte uit te stippel deur te besin oor die afgelope boekjare in beplanning vir verwagte toekomstige ontwikkelings. Die verwoestende uitwerking van Covid-19 op ons gemeenskappe en diegene in omliggende munisipaliteite het gelei tot verlies aan inkomste, werk en lewens en is vererger deur voortdurende beurtkrag. Ons is almal gedwing om die manier waarop ons sake doen, te verander – in ons daaglikse lewens, en ons interaksies met mekaar. Dit het nuwe en ongekende uitdagings aan ons gestel, wat oplossings eis om te oorleef en te vorder na ons visie van ’n unieke en sorgsame Vallei van diensuitnemendheid, geleentheid en groei’.
Sy noem ook BVM sal voortgaan om diensleweringsprobleme in die vallei te verbeter.
“Die Breedevallei-munisipaliteit sal voortgaan om diensleweringsagterstande die hoof te bied en sal prioritiseer waar nodig om te verseker dat daar in die mees dringende sake voorsiening gemaak word.
“Ons sal voortgaan om te streef na verbetering op alle vlakke om te verseker hierdie munisipaliteit verbeter die lewensgehalte vir die mense binne die Breedevallei- munisipale gebied.”
Beide begrotings is tans oop vir die publiek om kommentaar te lewer en besware aan te teken. Die Langeberg-munisipaliteit hou tans gemeenskapsessies tot 18 April.
Inwoners word uitgenooi om hul insette te tydens hierdie sessies te lewer. ’n Skedule van die sessies kan op die munisipaliteit webwerf gevind word. Insette kan tot Dinsdag 30 April gelewer word.
Die BVM hou ook vandeesmaand vergaderings waartydens die publiek hul insette kan lewer. Meer inligting hieroor is ook op die webtuiste beskikbaar. Die afsluitingsdatum vir insette is Vrydag 26 April.



