Die Breedevallei-munisipaliteit (BVM) sê hy is bewus van “ongewensde elemente” wat by die stortingsterrein rondloop.
Dít volg nadat Worcester Standard & Breederivier Gazette onlangs ondersoek hierna ingestel het nadat klagtes ontvang is van inwoners rakende die mense wat daagliks daar ronddwaal.
“Dis deurmekaar by die munisipale stortingsterrein. Daar loop ’n klomp mense daar rond wat in die vullis rondkrap. So nou en dan is daar stryery onder hulle of hulle gooi mekaar met die goed wat daar rondlê,” verduidelik ’n inwoner.
Hoewel die BVM bewus is hiervan en erken dat dit ’n uitdaging is, sê hulle nie of hulle ’n nuwe plan van aksie het om dit onder beheer te bring nie.
Die probleme by die stortingsterrein is glo al onder die munisipaliteit se aandag gebring, maar die munisipaliteit beweer hy het sommige van die klagtes nie ontvang nie.
Die inwoner beweer ook party van die mense woon by die stortingsterrein.
“Die BVM het geen klagtes ontvang oor mense wat by die Worcester-stortingsterrein woon nie, maar klagtes is wel ontvang oor mense wat materiaal op die terrein versamel,” het John Bulani, ’n woordvoerder vir die BVM, gesê. “Die BVM het sulke mense in kennis gestel dat hulle nie op die stortingsterrein toegelaat sal word nie. Toegang tot die terrein word by die hoofhek beheer, en die sekuriteitspan saam met die BVM se wetstoepassingsafdeling gee aandag aan die klagtes. Die veiligheidsheining rondom die terrein is herhaaldelik gevandaliseer, maar herstelwerk is uitgevoer en duur voort.”
Die inwoner noem ook dat die veiligheidswag wat veronderstel is om daar gestasioneer te wees, nie altyd sigbaar is nie.
Met Standard & Gazette se besoek aan die terrein was daar met ons aankoms geen sig van die wag nie, maar wel drie mans met gewone kleredrag en rugsakke. Daar was geen regulering van wie die terrein mag binnegaan of verduideliking oor hoekom hulle daar is nie. Tydens Standard & Gazette se besoek was verskeie mense besig om vullis van bakkies af te laai en verskeie vullisverwyderingsvragmotors het vragte ingebring en afgelaai.
Een van die mans wat daar rondloop, gee toe hy is een van die mense wat deur die rommel op die terrein gaan om herwinbare items te soek en dan te verkoop. Hy beweer ook hulle baklei nooit onder mekaar nie.
“Kyk, ons het ook kinders om na om te sien. Ons soek blikkies en sulke goed, dan gaan gee ons dit in vir ’n bietjie geld. So nou en dan help ons om die bakkies of trokke af te laai,” verduidelik hy terwyl hy die stof van ’n vullistrok wegwaai.
Melding is ook deur die inwoner gemaak oor die stand van die terrein – dat daar glo te veel goed oral rondlê.
“ ’n Stootskraper word by die stortingsterrein gestasioneer om die vullis daagliks gelyk te maak en te kompakteer, asook om dekmateriaal oor die vullis te strooi,” het Bulani gesê.
Met Standard & Gazette se vertrek van die terrein af het die stootskraper se bestuurder gegroet en die veiligheidswag was op sy pos by die hek.





