’n Man van Zwelethemba is dood nadat gewapende mans op hom losgebrand het.
AO Vathiswa Jacobs, ’n polisiewoordvoerder, sê die oorledene, Vusumzi Jacobs (48), was Maandag (9 Desember) omstreeks 20:30 ten tyde van die voorval in sy slaapkamer in sy woning in Fulangstraat, Zwelethemba.
Sy 79-jarige ouma was op daardie tydstip in haar slaapkamer.
Volgens Jacobs het die ouma skielik vyf skote hoor klap.
Toe sy by haar kamer uitkom, het sy twee onbekende mans by die oorledene se slaapkamer uitgestap sien kom.
Jacobs sê die mans het in ’n motor geklim en weggery.
Die oorledene het skietwonde aan sy kop, nek en regterbeen opgedoen.
Volgens haar is die motief vir die voorval in dié stadium nog onbekend.
Niemand is nog in verband met die moord in hegtenis geneem nie. . Enigeen met inligting oor die voorval kan die Zwelethemba-polisie by 023 345 8000 skakel.

