Skoonheidskool heropen in Worcester, gee gestremdes ‘n kans

Die Worcester-franchise van die Beauty Therapy Institute (BTI) is vandeesweek weer bekendgestel nadat Innovation for the Blind die leisels oorgeneem het. Voor is Anneline Basson en Joseph Matheatau en agter staan Stephné Botha en Sandy Fuhr, die eienaar van BTI.

Innovation for the Blind het die afgelope Dinsdag (26 Augustus), in samewerking met die Beauty Therapy Institute (BTI) weer ‘n bekendgestelling van die Worcester-franchise van die skoonheidskool gehou.

Dié inisiatief van Innovation for the Blind om ook kursusse vir gestremdes toeganklik te maak, poog volgens die hoof, Stephné Botha, om geleenthede vir sig- en ander gestremdes te skep om hul volle potensiaal te ontwikkel. Die organisasie het die franchise in Mei vanjaar oorgeneem.

Anneline Basson en Joseph Matheatau, die eerste blinde barista wat ook opleiding by Innovation for the Blind aanbied, is vennote in hierdie ini­sia­tief waardeur die skoonheidskool gestremdes die kans bied om hulself in ‘n rigting te kwalifiseer. BTI bied internasionaal geakkrediteerde kursusse aan met takke oral in Suid-Afrika en in etlike Afrikalande.

“Die syfers is ontstellend. Werkloosheid onder die jeug staan op 70% en 90% van dié wat gestremd is, het nie werk nie. Die blinde jeug se werkloosheid staan op 97%. Maar statistieke vertel ‘n mens nie van hul potensiaal of gewilligheid om tot die samelewing by te dra nie,” sê Botha.

BTI se kursusse is aanpasbaar, wat dit ideaal maak vir diegene wat net in afdelings wil spesialiseer en dit nie voltyds kan doen nie.

Die skoonheidskool is geleë by Kerkstraat 130, Worcester.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article